Dag 983

 

“Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie! —”

(Spr. 30:15, OAV)

Die hantering van die gees van perversie in die lewe van gelowiges is so ‘n omvangryke en gediversifiseerde tema dat ons nou al baie lank daarmee besig is, en ons het dit nog geensins uitgeput nie. In verskeie subtemas het ons in detail gekyk na die pervertering van gelowiges en dit wat hul geloofsfunksionering besoedel, byvoorbeeld die onvermoë om jouself  lief te hê, selfhaat (teenoor selfaanvaarding en selfliefde), onvergewingsgesindheid (en die belangrikheid van vergifnis), neerslagtigheid en depressie, en narcisssime.

Een van die aanverwante toestande aan narcissisme en selfsugtigheid is hebsug. Jesus draai geen doekies om nie as Hy dit eenvoudig, maar absoluut direk uitspel: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug …” (Luk. 12:15). Salomo se kensketsing in die aanhaling hierbo is ‘n meesterlike metafoor – hebsug is ‘n bloedsuier wat nooit versadig word nie, en uiteindelik die lewensbloed uit almal rondom hulle trek. Dit word ook ‘n ongeregtigheid wat in die nageslag (“twee dogters”) voortplant.

Hebsug kan gedefinieer word as die eksessiewe, obsessiewe en onversadigbare drang of begeerte om te wil besit. Dit kan kommoditeite, geld, dinge, of wat ook al, wees. Die doel van hebsug is om soveel as moontlik te akkumuleer, veel meer as dit was nodig is. Dit kan dikwels gekoppel word aan die verwerwing van rykdom, status en mag as gevolg van jou gedrewendheid om ten alle koste te wil besit. Die sielkundige Erich Fromm het die implikasies van hebsug raak saamgevat: “Greed is a bottomless pit which exhausts the person in an endless effort to satisfy the need without ever reaching satisfaction.”

Mense wat hebsug as ‘n positiewe lewenswaarde propageer, kwalik verskuild onder ‘n kwasi-etiese dekmantel, voer aan dit is die kwintessent van die evolusionêre gees. In die bekende 1987-film, Wall Street, kom hierdie aanhaling wat hebsug probeer regverdig as ‘n evolusionêre noodwendigheid van the survival of the fittest: “greed, for lack of a better word, is good. Greed is right, greed works. Greed clarifies, cuts through, and captures the essence of the evolutionary spirit. Greed, in all of its forms; greed for life, for money, for love, knowledge has marked the upward surge of mankind.”

Miskien kan die sekulêre humanisme dit op twyfelagtige manier só probeer regverdig, maar dit is helaas ‘n duidelik gefabriseerde leuen met demoniese vineer. Hebsug is duidelik ‘n ongeregtigheid (Jes. 57:17), ‘n boosheid wat uit die mens se binneste kom (Mark. 7:22-23). Hebsug is een van die vrugte van iemand wat “dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie” (Rom. 1:28-29). Hebsug lei daartoe dat allerhande ander onreinhede ook bedrywe word (Efes. 4:19).

In die volgende Manna probeer ons uitvind wat die dieperliggende wortel van hierdie perversiteit is.

  • Sela: Het jy hebsug?
  • Lees: Miga 1-7
  • Memoriseer: Miga 4:1-3
  • Delf dieper: Lees die boek Transforming Your Dragons deur José Stevens.