“Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon …”
(Luk. 16:9, OAV)
Ons kry die mees volledige verhaal oor die begrip ‘mammon’ in Luk. 16. Ongelukkig skep die stylaard wat in die gelykenis ingespan word geweldig misverstande. As die gelykenis verkeerd geïnterpreteer word, lyk dit asof Jesus sê dit is goed om oneerlik te wees! Kom ons lees allereers die interessante parabel van die onregverdige bestuurder in Luk. 16:1-13.
“En Hy het ook aan sy dissipels gesê: Daar was ‘n ryk man wat ‘n bestuurder gehad het; en hy is by hom aangeklaag as een wat sy besittings verkwis. En hy het hom geroep en vir hom gesê: Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie. Toe sê die bestuurder by homself: Wat sal ek doen? Want my heer neem die bestuurderskap van my weg. Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my. Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is, hulle my in hulle huise kan ontvang. Toe roep hy die skuldenaars van sy heer, een vir een, en sê vir die eerste: Hoeveel skuld jy aan my heer? En hy antwoord: honderd vat olie. En hy sê vir hom: Neem jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig. Daarna sê hy vir ‘n ander een: En jy, hoeveel skuld jy? En hy antwoord: honderd mud koring. Toe sê hy vir hom: Neem jou skuldbewys en skryf tagtig. En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig gehandel het; want die kinders van hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van die lig. En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang. Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig. As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou? En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee? Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
In sy artikel ‘The Injustice of the unjust Steward: Lk 16:1-8’ skryf L. John Topel: “The literature dealing with the parable of the unjust steward is staggering, and after all the effort expended, its meaning still eludes us. Indeed, more than any other parable it can be expected to keep its mystery for future generations of exegetes, for it bristles with difficulties.” Inderdaad is dit so – derduisende studies is oor hierdie gelykenis en die oënskynlike diskrepansies daarin geskryf. Tog mis bykans al die studies wat ek geraadpleeg het die kernaspekte van die gelykenis.
Alles in die gelykenis verloop volgens die diktering van ‘n goeie morele verhaal, tog is daar verskeie dinge wat lyk asof Jesus ongeregtighede in besigheid en ten opsigte van geld goedpraat en onderskryf. Dit het aanleiding gegee tot verskeie fabelagtige hermeneutiese kragtoere. Daar is byvoorbeeld geleerdes wat probeer uitwys Lukas (die skrywer van die Bybelboek waarin die gelykenis voorkom) het bepaalde woorde in die oorspronklike taal verkeerd verstaan en derhalwe is dit nie presies wat gesê is nie. Ander probeer die gelykenis gebruik om aan te toon dat Jesus ‘n aweregse subversiewe ondertoon in sy leringe het. En nog ander wil ten alle koste hê die gelykenis moet gelees word as ‘n radikale allegoriese boodskap oor God se onverdiende genade vir ons as sondaars (dus ‘n gelykenis in ‘n gelykenis).
Ek verstaan dit anders. Daar is duidelike vertelstrategieë wat leiding met die interpretasie van die gelykenis moet verskaf:
- Jesus noem hierdie hoofkarakter eksplisiet “die onregverdige bestuurder” (vers 8). Dit is ‘n baie spesifieke taksering wat saamhang met sy verklewing aan “die onregverdige mammon” (verse 9 en 11). Hierdie parallelisme wat drie keer voorkom, maak dit die sterkste gelyksoortige frase in die gelykenis. Alhoewel die baas van die onregverdige bestuurder hom “prys” (= “commend”), beteken dit nie hy (die baas) is gelyk te stel aan God nie, en sy taksering is eweneens nie Jesus se taksering nie, nee! Binne die “generasie” (vers 8) is daar soveel perversie, dat baas én kneg, hul handeling en denke, daardeur beïnvloed word. Barnes, in sy Albert Barnes’ Notes on the Bible, stel dit eweneens soos volg: “(They are) more prudent, cunning, and anxious about their particular business. They show more skill, study more plans, contrive more ways to provide for themselves, than the children of light do to promote the interests of religion.” Hierdie bestuurder het gewheel en deal: “to take part in clever (but sometimes dishonest or immoral) business deals” (The Free Dictionary); “To manipulate a situation to your advantage using crafty means.” (Urban Dictionary)
- Die gelykenis eindig met vers 8, en Jesus begin die verklaring van die gelykenis in vers 9. Hierdie blyk die mees problematiese vers te wees: “En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.” Wat bykans alle kommentators miskyk hier, is Jesus se stylgreep van sarkasme. Hy sê in ander woorde – as jy soos die kinders van die wêreld wil handel, wees dan gereed om die oneerlike pad van swendelary tot aan die einde te loop, sodat jy dan ontvang kan word in die ewige poorte van verdoemenis1 Ons weet teen hierdie stadium dit is nie die hel nie, maar “dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien”, soos Rom. 1:32 dit in ‘n ander konteks stel. Dit is bepaald nie die hemel, soos wat die NIRV dit skrikwkkend verkeerd voorhou nie: “Then when your riches are gone, you will be welcomed into your eternal home in heaven.” Genade, nee!
- Vers 9 – “Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon …” is nie ‘n impertief of opdrag van Jesus nie, maar duidelik tog ‘n waarskuwing! AS jy vir jou vriende maak deur die onregverdige mammon, SAL jy noodwendig aan hom verkleef bly tot in ewigheid, staan daar letterlik. Die raaksien van die ironiserende sarkasme hier sou veral parafraseerders kon help om nie hierdie vers totaal te verkrag en vals woorde in Jesus se mond te lê Kyk na die gekkigheid van byvoorbeeld die CEV-vertaling: “My disciples, I tell you to use wicked wealth to make friends for yourselves.” Ook die Message se vertaling is totaal uit wans uit met Jesus se karakter: “I want you to be smart in the same way–but for what is right–using every adversity to stimulate you to creative survival … so you’ll live, really live …” ‘n Mens kan net vra hoe rym hierdie vertalings met 2 Kor. 6:14-15: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” Duidelik: GÉÉN!
Die korrektief wat Jesus bring in vers 10-13 is onteensaglik die ware evangelie en hartsingesteldheid van Jesus. Ons kyk in die volgende Manna daarna.
- Sela: Verduidelik die stylmiddele wat Jesus gebruik in hierdie gelykenis aan iemand.
- Lees: 18-27
- Memoriseer: 24:23
- Delf dieper: Lees John Harris se boek: Mammon; or, Covetousness the sin of the Christian Church.