“As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?”
(Luk. 16:11, OAV)
Die gelykenis van die onregverdige bestuurder in Luk. 16 was die fokus die laaste klompie Mannas. Dit het ons veel gehelp om iets te verstaan rondom die sug na besittings, wat ons as hebsug geïdentifiseer het, ‘n manfestasie van die gees van perversiteit. Ons het gesien dat die gelykenis wyd misverstaan word as gevolg van die feit dat die stylgrepe wat in die teks voorkom (sarkasme en ironie) nie deur lesers en teoloë verreken word nie. Die vorige Manna het afgesluit met die korrektief wat Jesus bring in vers 10-13, wat die ware evangelie en hartsingesteldheid wat God rondom die saak verwag, demonstreer.
Vroeër in die evangelies het Jesus reeds ‘n bepaalde posisionering ten opsigte van aardse besittings uitgespel: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Mat. 6:19-21).
Ons het deur die loop van tyd só gewoond geraak aan hierdie .stelwyse van Jesus dat ons nie besef dit is van die mees “revolutionary teachings of our Lord” (Willam MacDonald se Believer’s Bible Commentary) nie. Dit bly egter nie daar nie. Jesus se antwoord in Luk. 18:24-25 aan die ryk jong man is absoluut aardskuddend: “Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan. Want dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.” (In die volgende Manna gaan ons meer in detail oor hierdie uitspraak skryf.)
Let op: hier word nie net van hebsug gepraat nie, maar spesifiek van ryk mense. Uiteraard impliseer dit wat Pred. 5:10 aforisties uitspel: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie …”, alhoewel ons weet: “Die seën van die HERE—dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.” (Spr. 10:22). Alhoewel rykdom uiteraard meer impliseer as net finansiële oorvloed, word iemand se monetêre vermoë allerweë beskou as dié merker van rykdom. Pred. 5:19 bied egter die volgende perspektief op rykdom: “Ook vir elke mens aan wie God rykdom en skatte gegee het, en wat Hy in staat stel om daarvan te eet en sy deel te neem en hom te verheug by sy moeitevolle arbeid, is dit ‘n gawe van God.” Rykdom kom dus onteenseglik van God af, MAAR NIE OM DIE PERSOON TE VERRYK NIE, MAAR OM HOM/HAAR ‘N FINANSIËLE SEËN VIR ANDER TE MAAK. Hierin lê die vangstrik van rykdom, dat jy dink: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.” (Open. 3:17).
Die riglyn uit die gelykenis van die onregverdige bestuurder is in vers 11: “As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?”
- Sela: Is jy getrou in die onregverdige Mammon?
- Lees: 2 Kon. 18:1-8; 2 Kron. 29-31; Ps. 48
- Memoriseer: 48:8 (Sing ook die pragtige Psalm.)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: The Money is in the Mantle