“Want dit is makliker vir ‘n kameel om deur
die oog van ‘n naald te gaan …”
(Luk. 18:25a, OAV)
Ons is nou ‘n tydjie reeds besig met die implikasies van Jesus se gesprek met die ryk, jong man in Lukas 18. Die klem in vorige Mannas het geval op die kwessie van rykdom (wat direk aansluit by ons oorkoepelende tema oor hebsug), en ‘n liefde vir geld en goed. In die laaste Mannas het ons bietjie van naderby beskou wat die ware toedrag van sake is rondom die begrip om “die koninkryk van God binne te gaan”.
In dié, asook die volgende Manna, wil ons uitwys dat hierdie kragtige verwysing van Jesus oor die kameel wat deur die oog van ‘n naald moet gaan, dikwels deur bepaalde foutiewe oorleweringe of taalgoëlery sy krag, en derhalwe ook sy betekenis, ontneem word.
Die onmoontlike beeld van ‘n kameel wat homself deur die oog van ‘n naald probeer wriemel, het deur die eeue mense se verbeelding aangegryp. Duidelik is die vergelyking hiperbolies, met ander woorde dit werk met oordrywing in die ergste graad, om die onmoontlikheid van die saak oor te dra.
Jesus het soms van hierdie verteltegniek gebruik gemaak, byvoorbeeld met sy verwysing in Mat. 7:3-5 waar Hy verduidelik oor die “balk” (in Engels: “log” of “plank”) in jou oog teenoor die houtsplinter in iemand anders se oog. ‘n Goeie ander voorbeeld hiervan behels ook die kameel: “Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!” (Mat. 23:24). In die Midde-Oosterse taalgebruik vind jy dikwels hierdie tipe idiomatiese taalgebruik. Die Arabiere, byvoorbeeld, het ‘n uitdrukking: ‘Hy sal die kameel verorber, maar verstik aan ‘n muggie.’ Dit beteken bloot ‘n skynheilige persoon sal hom steur aan onbenullighede, maar werklike sake van groot belang ignoreer. In die Persiese taalgebruik word byvoorbeeld gesê: ‘Dis makliker vir ‘n olifant om deur die oog van ‘n naald te gaan …’ as daar iets bedoel was van onmoontlikheid. (Kennelik was die olifant vir hulle die grootste dier bekend, soos die kameel die grootste dier bekend in Palestina was.)
Met die loop van jare het daar ‘n verklaring gekom van die uitdrukking ‘soos ‘n kameel deur die naald van ‘n oog’, wat sogenaamd verwys na ‘n na-uurse poort in die muur van die ou Jerusalem wat as gevolg van sekuriteitsredes nie die normale grootte van die poorte was waardeur kamele van buite met hul vrag net gemaklik kon ingaan nie. Hierdie poort was klaarblyklik ‘die oog van die naald’ genoem, want ‘n kameel moes sy vrag (lees simbolies “besittings”) neerlê en op sy knieë (eweneens ‘n mooi beeld om te gebruik) die poort ingaan.
Al is dit ‘n baie bruikbare beeld om in die Sondagskool of as preekmateriaal te gebruik, is dit helaas nie waar nie. Vreemd hoe hierdie oorlewering – wat nie gerugsteun word deur enige literêre, geskiedkundige of geografiese optekening óf argeologiese uitwysing nie – wyd inslag gevind het, en dan gemaklik gebruik word om te wys hoe moontlik dit vir iemand is om die koninkryk in te gaan, heeltemal teenstrydig met die oorspronklike bedoeling!
- Sela: Besef die gevaar as ‘n mens goedsmoeds enige interpretasie van Bybelgedeeltes aanvaar.
- Lees: 28-30
- Memoriseer: 28:9-10 (Baie belangrik vir hierdie lering.)
- Delf dieper: Lees meer oor die hiperbool: http://www.tentmaker.org/Biblematters/hyperbole.htm