“wat het julle uitgegaan om te sien?”
(Mat. 11:8, OAV)
Die ongelooflike bevinding in die vorige Manna dat die opeenvolgende tweede, derde en vierde letters van die Hebreeuse alfabet die woordjie “garment” of kleed spel, is van die allergrootste belang, veral omdat ons dit tans het oor die kameelhaarkleed van Johannes die Doper. Die Mannaleser moet op hierdie stadium duidelik al vermoed dat hierdie kleed ‘n belangrike, wyer simboliese betekenis het, en dat Johannes die Doper as prototipiese figuur absoluut sentraal staan, veral in die lig van Jesus se woorde in Mat. 11:11 – “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie.”
[Net om die wonderbaarlike geheimenis van die Hebreeuse taal met nog ‘n voorbeeld ter stawing van die belangrikheid van Johannes die Doper te illustreer. As die derde en die tweede letter saam as ‘n woord gelees word, met ander woorde as die pad wat die kameel geloop het, terug gespeur word, vorm dit die woordjie ‘sprinkaan’, een van die twee voedselsoorte waarop Johannes die Doper in die woestyn geleef het (Matt. 3:4)! Kyk ‘n mens dan verder na die Hebreeuse spelling van sy ánder stapelvoedel, heuning, word dit soos volg gespel: dalet + bet + sjin (דּבשׁ) – onthou Hebreeus lees van regs na links. As jy met die dalet (= deur = Jesus – Joh. 10:9) die bet, die tabernakel/tempel wat God gebou het (= jý – 1 Kor. 3:16), voltooi, en dit word saamgevoeg met die sjin (wat Christus en die Heilige Gees verteenwoordig – kyk na die vuurtongvlamme op die lettertjie, byvoorbeeld, en lees Joh. 16:7), is dít die heuning of openbaringskennis waarvan Johannes die Doper geleef het!]
Om terug te keer na die prototipiese betekenis van Johannes die Doper se kleed van kameelhaar. In die volgende passasie gee Jesus die sleutel van die saak deur die “harde” klere van die profeet in die konteks te plaas van iemand wat alles, ook alle gerief van sagpassende klere, te verruil sodat hy met Christus beklee kan word! (Hierdie uitdrukking verklaar ons later in groter detail.) Lees Matt. 11:7-12 aandagtig: “En toe hulle vertrek, begin Jesus vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan om in die woestyn te aanskou? ‘n Riet wat deur die wind beweeg word? Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat sagte klere dra, is in die huise van konings. Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, ook baie meer as ‘n profeet! Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak. Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy. Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld.”
Nie minder nie as drie keer vra Jesus dieselfde vraag: “wat het julle uitgegaan om te sien?” Soos met sy priemende selfde vraag drie maal aan Simon Petrus (Joh. 21:15-17) en Petrus se vroeëre driemalige verloëning (Mat. 26:75), dra hierdie indringende drieledige vraagstelling ‘n duidelike boodskap van uiterste belangrikheid. In Richard D. Patterson se artikel: ‘The Use Of Three In The Bible’ bevestig hy dat dié herhaling “engage …. readers in exploring the full significance of the events or details of the passage at hand.”
- Sela: Probeer verstaan wat Jesus bedoel met die klere van Johannes die Doper.
- Lees: 2 Kon. 18:9-19:37; Ps. 46, 80 & 135
- Memoriseer: 46:4
- Delf dieper: Luister na Jan Stander/Johann Pienaar se lerings: Die Geestelike Dissipline van Johannes die Doper; en: Die Stem wat roep in die Woestyn