“erfgename van die belofte”
(Heb. 6:12, OAV)
Ons het in die vorige Manna 1Kon. 18:31-32a tipologies begin verklaar: “Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees—en hy bou met die klippe ‘n altaar in die Naam van die HERE.” Daar is uitgewys hoe belangrik die verteller se toeligtende bysin vir ons is: “tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees”. God praat hier met Elia in ‘n situasie waarin hy alles nodig het waarmee hy ten alle koste oorwinning oor sy vyand moet behaal, en dít is God se invalshoek – die voorvader Israel, vroeër Jakob genoem, se naamsverandering. In die vorige Mannas het ons begin om die geskiedenis uit te pluis, en dit word hier vervat.
Dié verandering van naam is ingebed in die narratief opgeteken in Gen. 32:22-32, maar dit word voorafgegaan in Gen. 32 deur die geskiedenis van Jakob en Esau. Hierin was Jakob, soos sy naam gesê het, ‘n onderduimse rugsteker. Vir Jakob moes daar inderdaad iets uitsonderliks groot verander in sy lewe sodat hy die regmatige eienaar van die patriargale seëning kon wees, en uiteraard dit waardig wees. Jakob het teoreties gesproke ALLES geërf wat moontlik in die wêreld geërf kan word! Alhoewel Jakob die beloftes van God van sy broer gesteel het, het hy nou daarmee gesit, en moes hy eers van natuur verander voordat hy die voertuig kon word van God se beloftes en outoriteit.
Daar is ook in die vorige Manna uitgewys dat Jakob en Esau die ganse verlore mensdom se twee (potensiële) nature verteenwoordig. Esau verteenwoordig op verskeie vlakke die natuurlike mens. In hierdie lig is dit duidelik waarom Heb. 11:20 sê: “Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.” Die MSG-vertaling stel dit só: “By an act of faith, Isaac reached into the future as he blessed Jacob and Esau.” Hierdie “reach into the future” het dus Elia geraak en raak derhalwe ook vir my en jou, ook dan as “erfgename van die belofte” (Heb. 6:12)! In Gal. 3:29 word dit soos volg uitgespel: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”
Hierdie belofte word gesimboliseer deur die staf wat Jakob gedra het toe hy die Jordaan oor is. In sy nederige gebed erken hy voor God dat hy homself te gering skat vir alles wat voorlê: “ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het; want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword” (Gen. 32:10).
Bykans al die teologiese kommentare wat oor hierdie vers geraadpleeg is, het geen groot gewag gemaak van die verwysing na die staf nie. Albert Barnes’ Notes on the Bible, byvoorbeeld, sien dit bloot as ‘n aanduiding van die feit dat hy geen middele gehad het nie, net ‘n enkele staf, maar dit is onwaarskynlik, want hy het uit sy besittings groot geskenke aan sy broer Esau gestuur wyl hy onderweg was. Derhalwe is die Geneva Bible Translation Notes, wat die verwysing na die staf voorhou as duidend op “poor and without all provision” eweneens ook nie waar nie.
As ons in Mark. 6:8 (ESV) lees van Jesus se opdrag aan sy dissipels, is dit baie duidelik dat die staf op meer as ‘n wandelstaf of herderstaf dui: “He charged them to take nothing for their journey except a staff – no bread, no bag, no money in their belts …” In die lewe van byvoorbeeld Moses word die staf ‘n duidelike aanduiding van geestelike outoriteit, soos die verhaal in Eks. 4:1-4 dit vertel: “Toe antwoord Moses en sê: Maar as hulle my nie glo en na my stem nie luister nie, maar sê: Die HERE het nie aan jou verskyn nie? Daarop vra die HERE vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: ‘n Staf. En Hy sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het ‘n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert. Hierop het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het ‘n staf in sy hand geword—”.
Let asseblief op – soos Jakob totaal ontoereikend gevoel het oor die taak wat voorlê, so voel Moses ook. En God demonstreer sy outoriteit in hulle hand deur die staf. Dit word dan “die staf van God in my hand” (Eks. 17:9)! Die rede hiervoor word duidelik as daar in Sag. 11:10 verduidelik word dat staf simbolies is vir verbond. Op grond van jou verbond met God is daar ‘n bepaalde outoriteit in jou gesetel, dis as ‘t ware in jou hand, wat jy doen, en dit word deur ‘n staf gesimboliseer. Om hierdie rede hoef Jesus se dissipels niks anders te geneem het op hul reise nie, net ‘n staf – dit was die simbool van die alvoorsiening en totale outoriteit en krag wat nodig was.
Maar benewens dit was hierdie staf ook van groot persoonlike betekenis vir Jakob. In sy studie oor aartsvader Jakob se lewe: You Can Let Go Now, verduidelik Mark J. Chironna die volgende oor die staf: “the heel grabber had nothing in his hand except the staff, the tribal birthright – a dead stick with the family history etched on it and given to the firstborn son to be preserved from generation to generation. When Jacob crossed the Jordan and headed up the King’s Highway through Damascus and on the way to Haran, he leaned on that dead stick for support because it was the only friend he had. In other words, all that he had to comfort him when he left was the testimony of where he had been, which for the Hewbrews was etched on his staff.” (p. 156).
Hierdie staf was dus simbolies as ‘t ware Jakob se naelstring; sy totale genealogie was daarin opgeteken, asook die verbondsbeloftes wat aan sy vader Abraham gemaak is! Geen wonder nie dat hy die staf bo alles aangegryp het in hierdie bedreigende situasie – dit was meer werd as enigiets anders. Dit was ook die geval later in sy lewe – Heb. 11:21 gee ons die volgende inligting: “Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed altwee die seuns van Josef geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van sy staf.”
[Oor hierdie aanhaling uit die Nuwe-Testamentiese boek Hebreërs het ek dikwels gewonder – hoe het die (onbekende) skrywer van die sendbrief geweet dat Jakob het geleun op die knop van sy staf, want na my wete kom dit nooit in die boek Génesis voor nie? Die enigste naastenbyse verwysing is Gen. 47:29-31: “En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou—begrawe my tog nie in Egipte nie. Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord. Toe sê hy: Sweer my dit tog. En hy het vir hom gesweer. Toe het Israel in aanbidding gebuig oor die koppenent van die bed.” Alhoewel die meeste vertalings dit soortgelyk vertaal, is daar ‘n paar, soos die Complete Apostle’s Bible, wat dit vertaal as volg: “And he said, Swear to me; and he swore to him. And Israel bowed down, leaning on the top of his staff.” Die rede vir die misverstand in vertaling lê daarin dat die konsonante (met dié spesifieke vokale) vir bed is מטּה (miTTah). Dieselfde konsonante, met ‘n ander vokaalkombinasie (maTTeh) beteken staf: “branch, a bough, a rod, a staff”. Verskillende vertaaltradisies het dit dus verskillend geïnterpreteer.]
Die feit dat hierdie skynbaar onbenullige optrede van Jakob wat op sy staf leun, uitgespel word, lê uiteraard groot klem op die belangrikheid van die staf, en die staf dui – soos gesê – op die “erfgename van die belofte” (Heb. 6:12)! Hierdie belofte word gekonkretiseer deur die onwillige profeet Bíleam wat in Num. 24:17 betaal word om die nageslag van Abraham te vervloek, maar hulle dan inteendeel seën met die volgende woorde: “Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver.” Let wel – die staf van Jakob word hier ‘n septer, waarmee die nageslag regeer! In Gal. 3:29 word dit soos volg uitgespel: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”
Let eweneens op Paulus spesifiseer: “as julle aan Christus behoort”. Ook in Rom. 8:17 word dit uitgehef: “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus”; en in Efes. 3:6 – “dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus”!
Wat erf ek en jy as nasate van Abaham en Jakob? Ons erf “die mate van die volle grootte van Christus” (Efes. 4:13)! Sela! Jóú erfenis is ook op daardie staf van Jakob ingegraveer gewees! Toe hy, bes moontlik weer leunende op sy staf, geprofeteer het oor sy kleinseuns, wat die twaalf stamme van Israel sou word, het hy ook oor my en jou geprofeteer – “Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.” (Gen. 49:1). [Onthou nou Elia se twaalf klippe wat die twaalf stamme verteenwoordig – waarop beroep Elia hom?!]
Noudat ons weet wat die belofte is, en wie die erfgename is, kan ons terugkeer na Jakob se verhaal. Jakob se geweldige benoudheid oor sy ontmoeting met sy verontregte broer Esau word in Jer. 30:7 ‘n groter simboliese reikwydte gegee: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word. En op dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie.”
[In die Pinkster- en Charismatiese bewegings word hierdie begrip, in Engels genoem “Jacob’s trouble”, geassosieer met die sogenaamde “tribulation” en gekoppel aan die tweede deel van die sewejaarperiode, wat hul die ‘groot verdrukking’ noem, wat volgens hul eskatologiese siening sal plaasvind net voor Jesus se wederkoms. Twee bronne wat dit sterk vooropstel, is: Understanding End Times Prophecy deur Paul Benware en Renald E. Showers se Maranatha, Our Lord Come. Ons het met die mite van die ‘groot verdrukking’ mee klaar gespeel in Manna Dag 350-353.]
Jakob se benoudheid in die profetiese boek van Jeremia is seer sekerlik allereers ‘n verwysing na Gen. 32:7, waar eksplisiet gesê word “Jakob (het) baie bevrees en benoud geword”. Dit is hierdie benoudheid wat Elia ook ervaar, en vir dieselfde tipologiese rede die ervaring van elkeen wat in die proses is om die ouoriteit wat God hom/haar gegee het aan die werklikheid te toets.
Terug na die verhaal in Gen. 32 wat lei to Jakob se naamsverandering, want daarin setel die belofte aan Elia, en aan ons. In vers 22 lees ons: “En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek …”
Die naam van die plek wat God uitgekies het vir Jakob se diepste konfrontasie met sy vals self, is Jabbok, ‘n woord wat in die Hebreeus veelseggend beteken: the place of emptying. Alvorens ek en jy, en Jakob en Elia, die volhed van outoriteit kan verkry, moet ons deeglik gesuiwer en bevry word van alles wat nié God in ons is nie.
- Sela: Weet jy wat die belofte is, en wie die erfgename is?
- Lees: 31-36; Ps. 96; 2 Kor. 2-4
- Memoriseer: 2 Kor. 4:3-4
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Erfdeel van die Bruid