Dag1213

 

“omdat hy die eer nie aan God gegee het nie”

(Hand. 12:23, OAV)

 

In hierdie en die volgende Mannas wil ons graag ‘n paar voorbeelde voorhou van hoe trots sekere figure in die Bybel ernstig beïnvloed het, en die gevolge daarvan. In al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Kor. 10:11), net soos daar in Jes. 16:6 van Moab uitgespel word: “Ons het gehoor van die trotsheid van Moab—hy is baie trots! —van sy hoogmoed en sy trotsheid en sy grimmigheid, sy onbehoorlike grootpratery.” Moab beteken in Hebreeus “of his father” (Thayer), met ander woorde hy kan tipologies voorgehou word as de vader van trots.

Die eerste voorbeeld van ‘n trotsaard is die vors/koning van Tirus (nie Satan nie – kyk weer Manna Dag 1022-1024): “Mensekind, sê aan die vors van Tirus: So spreek die Here HERE: Omdat jou hart hoogmoedig was en jy gesê het: Ek is ‘n god, ek bewoon ‘n godewoning in die hart van die seë—terwyl jy tog ‘n mens is en geen god nie—en jou hart gemaak het soos die hart van ‘n god; kyk, jy is wyser as Daniël, alles wat verborge is, is vir jou nie te duister nie! Deur jou wysheid en deur jou verstand het jy vir jou rykdom verkry, ja, jy het goud en silwer in jou skatkamers verwerf; deur die grootheid van jou wysheid in jou koophandel het jy jou rykdom vermeerder, en jou hart het hoogmoedig geword deur jou rykdom …’ (Eseg. 28:2-5). Duidelik het hy véél meer gehad as ander mense, materieel, maar ook geestelik, maar sy hart het hoogmoedig geword deur dit alles, en daardeur het hy hom God se gramskap, en weerstand (Jak. 4:6) op die hals gehaal.

Die tweede voorbeeld is die voorspoedige Koning Nebukadnésar wat ‘n droom oor sy grootsheid gekry het, wat vir hom (deur Daniël se woord van wysheid geïnterpreteer) gewys het God gaan om tot inkeer bring as gevolg van sy trots: “Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel rondwandel, het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie? Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar ‘n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê—die koningskap word jou ontneem; en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.” (Dan. 4:29-32). Hierdie skrikwekkende gebeurtenis het presies so plaasgevind.

‘n Mooi, derde, Nuwe-Testamentiese voorbeeld is te vinde in Hand.12:21-23: “En op ‘n bepaalde dag het Herodes ‘n koninklike kleed aangetrek en op die troon gaan sit en hulle toegespreek. Daarop het die volk hom toegeroep: ‘n Stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie! En onmiddellik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.” Skrik!

  • Sela: Vra die Heilige Gees om jou diepste hartsgesindheid rondom trots te openbaar.
  • Lees: 8-9; 2 Kor. 10
  • Memoriseer: 2 Kor. 10:3-6 (Kyk na die mooi sinchronisiteit in vers 1)
  • Delf dieper: Lees Guy Hersberger se boek: The Way of the Cross in Human Relationships