“As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (Luk 16:31, OAV)
In die lig van die vorige keer se Manna is dit noodwendig dat daar verskeie vrae sal wees rondom die doderyk, die “boesem van Abraham” en die wolk van getuies, synde die drie “toestande” (by gebrek aan ‘n beter woord) waarin die dooies verkeer. Daar is ook noodwendig vrae oor diegene wat voor Jesus se kruisdood gesterf het, en ‘n paar aanverwante vrae. Alhoewel dit nie deel van die hoofbespreking is nie – die mite van gelowiges wat hemel toe gaan – voel ons dit hoort tog tuis hier op hierdie stadium, sodat ons nie die onderwerp in die lug laat hang nie.
Maar voordat ons gaan probeer om hierdie vrae te beantwoord, is dit van groot belang om Mannas 578-580 van die vorige keer in reliëf te plaas met die verhaal van Lasarus en die ryk man in Luk 16:19-31. Hierdie belangrike gedeelte in die Evangelies word wyd gebruik om teorieë oor die dood en die hiernamaals, die hemel en die hel, te formuleer. Trouens, daar is miskien nie ‘n enkele gedeelte van die Bybel wat meer misbruik word om teologie oor die lewe na die dood te probeer vaspen nie.
Bykans al die boeke wat handel oor die dood en die hiernamaals behandel uiteraard dié gedeelte in Lukas, met min of meer dieselfde gevolgtrekkings. Dr Willie Marais se Ons dode lewe, dr Jac. J. Müller se Die lewe na die dood, dr. Jan Bothma se Waar is my geliefde wat gesterf het?, dr Daniel A. Brown se What the Bible reveal about Heaven, om net ‘n paar tekste van die hordes oor dié onderwerp te noem, herhaal maar net die geykte, voor-die-hand-liggende oorgelewerde argumente. In Afrikaans is die topverkoperboekie oor Lasarus en die ryk man verseker dr Izak Burger se Die eerste 5 minute na die dood. Helaas bevestig ook hierdie boek die hiernamaalsmitologie. Ek het allerweë groot respek vir dié Pinksterteoloog, maar hierdie boekie is na my mening nie in ooreenstemming met die totale Bybelse segging rondom die die lewe na die dood nie.
Verskeie koerantberigte het aangekondig hoe geweldige groot oplae van dié boekievan Burger verkoop word, uitgedeel word in tronke, en dat dit magtig gebruik word deur God. Die belangrikste rede hiervoor is dat dit gebruik word as ‘n evangelisasiehulpmiddel om mense tot ‘n keuse vir Jesus as Verlosser te oortuig. Daarom sluit die boekie ook af met ‘n slotbekeringsgebed.
Ek betwyfel geensins dat God die boekie gebruik om baie mense tot bekering te lei nie – Hy kan weliswaar enigiets gebruik om dit te doen. Ek het ook nie kritiek op die feit dat dit veral vir hierdie doeleinde gebruik word nie. Wat my wel in my gees ontstem, kan ek die beste verduidelik aan die hand van ‘n persoonlike ervaring ‘n klompie jare gelede. Ek was in die stad waar ek toe gebly het verantwoordelik vir die bestuur van ‘n aftreeoord toe die bejaardes my vra om hulle die aand na ‘n geestelike opvoering toe te neem. ‘n Toerende kerkgenootskap het die stad besoek met ‘n welbekende dramaopvoering wat handel oor iemand wat onverwags sterf en dan by die poorte van die hemel kom en dan tot sy groot skok uitvind sy naam is nie geskryf in die boek van die lewe nie. Hy word dan nie-so-sagkens begelei om sy regmatig-verdiende plek in die hel te gaan inneem. Die gruwelikheid van wat met hom daar gebeur het (hoofsaaklik deur gilgeluide en angswekkende uittarting en vuurvlamme en demoniese geskater en nodelose argumente en martelinge) het die gehoor aan hul stoele of rystoele vasgekluister, die oë vasgenael op die volgende skrikwekkend geskroeide geluid uit die hel.
Toe die ligte uiteindelik aangeskakel word, en die evangelis ‘n uitnodiging maak om Jesus as Verlosser (wat jou red van die hel) te maak, was bykans die hele saal vorentoe, al die bejaardes op loopringe en kieries, my eie, beangste kinders heel vooraan. Ek was verstom oor die effektiwiteit van die drama. Ek het huiswaarts gekeer met ‘n bussie vol pasweerbekeerde bejaardes en kinders.
Die volgende middag het die matrone van die bejaardeoord my geskakel en gesê die inwoners vra of hulle wéér die aand na die opvoering kan gaan kyk. Ek het nie weer kans gesien vir die gruwelikhede van die hiernamaals nie, eerlik waar, maar het nietemin my later weer midde-in die hart van die hel bevind. Groot was my verbasing toe die uitnodiging vir bekering weer eens na die drama gemaak word, en – gedoriewaar – ál die pasbekeerdes van gisteraand kan nie vinnig genoeg hul kierietjies en wielietjies inkap om vorentoe te beur nie. En hulle neem almal wéér Jesus aan.
Op pad terug na die bejaardeoord probeer ek uitvind by die ou predikant wat langs my sit hoekom hy ‘n tweede keer gegaan het. “ Ou Seun,” het hy gesê, “’n mens kan nooit te seker maak nie.” Sy oë was wit van vrees.
Toe besef ek – as die drama nog ‘n aand opgevoer sou word, sou ek hulle verseker die volgende aand weer vat, sal hul bepaald weer gaan, want die keuse om Jesus aan te neem, is nie geneem uit ‘n behoefte om Hom te mag ken nie (Joh 17:3), maar uit vrees uit vir die hel.
Dr Burger se boek, alhoewel veel meer genuanseerd as die toneelstuk, werk helaas met dieselfde gegewe. Maar die ontstemdheid in my gees strek wyer as die evangelisasietegniek – dit gaan in ‘n groot mate oor die teologie wat gefabriseer word uit hierdie verhaal.
Die verhaal van die Ryk Man en Lasarus in Luk 16:19-31 is absoluut dramatiese gegewe. Maar ter wille van verwysing is dit belangrik om die hele verhaal hier weer te gee: “En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek. En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam. Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie. En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur— want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”
Bedink die verhaal biddend – dit is miskien een van die beste voorbeelde van hoe ons deur dogma geprogrammeer word om die Bybel dogmaties en volgens oorlewering te lees.
- Sela: Bedink die verhaal van Die ryk man en Lasarus biddend.
- Lees: Ps 73-78
- Ondersoek die vervulling: Ps 78:2 (Wenk: Spr 1:6, Mat 13:11-13 en Mark 4:34)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: Om die Aarde te Beërwe – Wat Gebeur as Mens Sterf?