Dag584-586

 

“Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is,hulle is kinders van Abraham.” (Gal 3:7, OAV)

 

In Geloofsverklaring 2000, ‘n samevatting van breë geloofswaarde waaroor ‘n groepering Gereformeerde gelowiges konsensus het in die oorgang na die 21ste eeu, word die volgende belangrike uitgangspunt van Bybelse hermeneutika (uitlegkunde) mooi saamgevat: “Ons glo dat die onderskeie dele van die Bybel verskillend aangebied word – as vertellings oor die voorgeskiedenis, profesieë, gedigte, reisbeskrywings, verhale, briewe – en dat elke Skrifdeel aan die hand van sy besondere herkoms en aard en in die lig van die geheel verstaan en verklaar moet word.” (Sien Fritz Gaum se Soos ons in die 2000’s glo – Perspektief op Geloofsverklaring 2000.) Die indertydse Gereformeerde grondleggers het ten regte as uitgangspunt verkondig dat Skrif altyd Skrif moet verklaar, of dan: die Skrif is sy eie verklaarder (alhoewel hul dikwels grootliks in gebreke bly in die uitvoering daarvan). Jesus se eie woorde oor die saak in Joh 10:35 is besonder duidelik: “die Skrif (kan) nie gebreek word nie”. Dit beteken dat die totaliteit van die Skrif nie mekaar weerspreek nie, en dat elke “duister” gedeelte teen die geheel geïnterpreteer moet word.

Die grootste probleem met bykans al die lesings en interpretasies van die gelykenis van Die Ryk Man en Lasarus is dat dié kernbeginsel van Skrifuitleg nie gevolg word nie. Ongelukkig word hierdie gelykenis die norm in dogmavorming oor die hemel en die hel en die hiernamaals en die res van die Skrif word daarby aangepas.

Onteenseglik is hierdie verhaal ‘n gelykenis – dit is deel van ‘n siklus van vyf opeenvolgende gelykenisse wat reeds in Luk 15 begin. Ons groot struikelblok in die lees van die verhaal van die ryk man en Lasarus is dat ons op grond van wat uiteindelik met hulle gebeur hul posisie van arm en ryk (en wat daarmee gepaard gaan) lees as gered en ongered. Daar is niks in óf die ryk man óf Lasarus se aardse lewens wat letterlik iets van redding spreek nie. Trouens, as dit oor rykdom gaan, is Abraham eerder te vergelyk met die ryk man as met die arm man, Lasarus. Ons weet uit Gen 13:2 – “Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud”.  In Gen 24:53 weet ons dat Abraham vir sy seun se vrou “kosbare geskenke” van “silwer— en goue goed en klere” gegee het. Die rykdom van Abraham was derhalwe ook sigbaar in die klere van dié vader van die geloof en sy gesin – dit was duidelik tekens van “the insignia of his dominion” (Hoffmann aangehaal in Keil & Delitzsch: Commentary on the Old Testament). Rykdom is eerder die merker van die seën van die Here as ‘n vloek (Gen 24:35; Deut 8:18; Spr 10:22). Rykdom kan dus hier baie beslis nie gesien word as ‘n negatiewe attribuut in vergelyking met die arm man, wie se armoede nie in Bybelse terme as positief gelees kan word nie (Spr 6:10-11, 10:4 en 13:4). Trouens, Ps 37:25 (CEV) spel dit eksplisiet uit: “As long as I can remember, good people have never been left helpless, and their children have never gone begging for food.” Volgens die lys van seëninge en vervloekinge van Deut 28, veral verse 16-18 (ten opsigte van armoede) en verse 28-29 (ten opsigte van “swere … geswelle en skurfte en uitslag waarvan jy nie kan gesond word nie”), is Lasarus eerder die vervloekte. Lasarus se naam in Hebreeus beteken dan ook, gepas: Hulpeloos.

Nog ‘n nie-opsigtelike aanduiding hiervan is dat Abraham aan die Ryk Man sê: “onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het” (Luk 16:25). Dwarsdeur die Skrif word dié “goeie dinge” gekoppel aan die guns van God (Mat 7:11; Jak 1:17), wat nie van jou af weggeneem kan word nie (Luk 10:42).

As Lasarus dan sterf, en ons lees die verhaal biblisties of letterlik, is hy inderdaad dadelik hemel toe. Maar dit sal in stryd wees met die eksplisiete uitspraak van Jesus in Joh 3:13 – “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.”

Eweneens, as ons kom by vers 23, waar die ryk man sterf, lees ons dat “hy in die doderyk sy oë ophef”. Letterlik is dit ook onmoontlik. Die Skrif sê immers in Pred 9:5 – “die dooies weet glad niks nie”. Die doderyk (= Hades) beteken in Grieks “unseen, or imperceptible” – per definisie is dit onmoontlik om daar te kan sien of te kan verstaan (sien ook Ps 146:4, BBE– “Man’s breath goes out, he is turned back again to dust; in that day all his purposes come to an end.”) Ook Pred 9:10 stel dit duidelik– “daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk”.

Die ryk man roep na Abraham in die doderyk – ook dít is onmoontlik: “let them be silent in Sheol”, sê Ps 31:17. Daarbenewens: niemand wat gesterf het, is al veroordeel nie, met ander woorde: niemand kan al in die hel wees nie (2 Tim 4:1; Hand 17:31).

Luk 16:26 is amper die duidelikste onlogiesheid as mens letterlik na die verhaal wil kyk: Abraham sê die groot kloof tussen “hemel” en “hel” is daar “sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie …” ‘n Mens kan verstaan dat die arme siele van die hel na die hemel wil oorgaan, maar om te wil oorgaan van die hemel na die hel? Ai, nee. Duidelik dui hierdie “divide” op iets totaal anders as hemel en hel (die twee spilwoorde wat geensins eers in die gelykenis voorkom nie).

Alles wat gesê word in die gelykenis oor wat gebeur is volgens die Skrif nié letterlik nie. (Onthou wat oor die gelykenis in die vorige manna gesê is: die klem val nie op die gebeure as sodanig nie, maar oor die geheelsegging.) In die doderyk is daar nie bewussyn nie, nee – al die dooies rus (1 Sam 28:15). In Job 14:14 word dit uitgespel: “If a man die, shall he live again? All the days of my appointed time will I wait, till my change comes.”

Die gelykenis begin met die baie belangrike insetgegewe: “En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra …” Die Concordant Literal New Testament vertaal dit as: “Now a certain man was rich …” Die woordjie “certain” beteken volgens Webster’s: “Without any doubt or question; sure; positive.” Die Oxford Dictionary verklaar eweneens hierdie “certain”: “That might be specified, but is not, … existing, though probably unknown to the reader or hearer (a certain John Smith).” Die figuur is bekend, maar prototipies onbenoemd. Tog word daar ‘n paar simboliese sleutels gegee wat die identiteit van hierdie man korporatief bekendmaak – hy is ryk en hy dra, benewens fyn klere, ook purper.

As Paulus in Rom 3:1 praat van “the prerogative of the Jew”, beteken die woordjie “prerogative” volgens die Strongs “excess, superabundantly”. Die stam van Juda, wat die stamwaarmerk van die Jode geword het, is deel van Israel, maar Israel is nie deel van Juda nie, en Juda het ‘n geskiedenis van rykdom in die breedste sin van die woord. Die rykdom van die Jode (selfs tot vandag toe), die excess en superabundance wat God hul gebied het, meer as enige ander nasie, is die saak wat hier voorop gestel word.

As die doel van die gelykenis was om hemel en hel te demonstreer, was die tipe klere van die ryk sondaar totaal irrelevant. Ons weet “purper”, volgens die Greek-English Keyword Concordance, dra die volgende simboliese waarde: “A color used in garments of a bluish red, … It denotes rank of royalty”. Purper is deur die konings gedra (Rigt 8:26). Wie was egter die koninklike lyn in Israel? Juda (Gen 49:10). Ten spyte van die Romeinse regeringsbeheer, was die koninklike Juda verteenwoordig in die Fariseërs, die skribas en die Skrifgeleerdes. In Mat 23:2-3 sê Jesus: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit …”  (Sien ook Rabbi Morris N. Kertzer se What is a Jew? oor die oorsprong van Judaïsme.)

 

Met die koninklike purper dra die Ryk Man egter ook “fyn linne”, die soort waarvan Eks 25:4 en 28:5 bes moontlik praat – wat die klere van die priesters is. Dus dra die ryk man klere van die “koninklike priesterdom” (1 Pet 2:9; Open 5:10) – Juda het volgens Esra 1:3 die reg tot koningskap én priesterskap gehad. As die Ryk Man dan Abraham “Vader” noem, en ons identifiseer hom prototipies as Juda, mág hy bepaald vir Abraham “vader” noem, want hy is sy agterkleinseun! Juda besit die “wet en die profete” (Rom 3:1). Daarom noem Abraham die ryk man in die gelykenis eweneens “Kind” (Luk 16:25)!

Maar wie is dan die Ryk Man se “vyf broers” (Luk 16:28)? Ons weet Juda het elf halfbroers gehad (by vier ma’s), maar hy spesifiek is die seun van Lea, en natuurlik – hy het vyf eie broers (Gen 29:31-35, 30:18-19)!

Maar wie dan is Lasarus? Die feit dat die arm man so eksplisiet benoem word (in teenstelling met die ryk man) is veelseggend. Die verhelliniseerde naam Lasarus het ‘n Hebreeuse oorsprong (Thayer’s Greek Definitions), naamlik Eliëser. Die gehoor vir wie die gelykenis vertel word, het uiteraard onmiddellik die intertekstuele verwysing gesnap toe daar van Abraham en Lasarus/Eliëser in een asem gepraat word. Gen 15:2-3 lê die onmiskenbare assosiasie: “Toe vra Abram: Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is? Verder het Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees.” Omdat Abraham geen nageslag gehad het nie, het hy besluit om AL sy rykdom aan sy slaaf Eliëser na te laat. Hierdie slaaf was ‘n nie-Jood, ‘n Gentile van Damaskus, in die taal en tongval van die Jode “honde” genoem (Fausset’s Bible Dictionary) [Dan verstaan ‘n mens dat daar in die gelykenis vertel word die honde Lasarus se wonde gelek het – dit was sy “pack of dogs”, sy soort, die ander Gentiles.]

Eliëser is die totale erfenis belowe, maar toe God sê dat Hy vir Abraham ‘n bloedeie seun sou gee, moes die dienskneg daarmee verlief neem. Hy moes die seun orals begelei en beskerm en selfs vir hom ‘n vrou gaan soek. In dit alles het hy nooit van die erfgenaam probeer ontslae raak nie, tot sy eie groot persoonlike verlies. Hy kon hoogstens hoop vir die krummels wat van die ryk man se tafel afval, wat die honde en Lasarus (Luk 16:21) moes oplek. Soos die “Griekse vrou, ‘n Siro-Feniciese van geboorte”, ‘n Gentile dus, is Lasarus ‘n tipe van die nie-Jood wat moet terugstaan, omdat Jesus allereers vir die Jood gekom het (Mat 10:6; 15:24; Rom 1:16): “Laat eers die kinders [= Jode] versadig word; want dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en vir die hondjies [= nie-Jode] te gooi nie.” (Mark 7:26-27).

Eliëser/Lasarus/die nie-Jood kon net lê aan die poort van die Jood/Ryk Man, maar nie daar ingaan nie. In Jesus is daardie poort/weg geopen (Heb 10:20), en nou sit die nie-Jood in die boesem van die vader van die geloof: “Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.” (Gal 3:7). Die gelowige nie-Jood het genesing (= verlossing) verkry soos die nie-Jood Abraham wat die vader van die Jode geword het (Joh 8:39). In hierdie insig oor die ware toedrag van geloofsake, vra die Jood dat die nie-Jood net sy vinger in water doop en sy tong (nie sy sogenaamde brandende vlees nie) verlig. Alles verkry ‘n tipologiese betekenis, waarop ons nie nou kan ingaan nie – sien byvoorbeeld in terme van die vinger (Mat 23:4; 1 Kon 12:7 & 11), die tong (Ps 137:6; Jes 3:8), die groot kloof (= die deurgaan van die simboliese Jordaan na die beloofde land (= Christus; Rom 6:4-5; Open 1:18).

Dit is onteenseglik duidelik – hierdie gelykenis gee geen gestalte aan enige verletterliking van hemel of hel nie.

 

 

  • Sela:  Probeer die ander simboliek wat nie gedek is nie, Bybels verifieer.
  • LeesPs 82-90
  • Ondersoek die vervulling:  Ps 82:6 (Wenk: Joh 10:34-36; Gal 3:7)
  • Delf dieper:  Luister na Tom Gouws se cd: Die Genealogie vd Bruid : circa 2008