
“Toe sê ek: Ag, Here HERE, hulle sê vir my:
Spreek hy nie altyd in gelykenisse nie?”
(Eseg 20:49, OAV)
Gelowiges se mitologisering van vuur is tans onder die loep. Ons het vroeër geleer uit Lasarus en die ryk man dat die Bybel dikwels simbole, metafore, vergelykings, ens. gebruik. Ons moet onderskei wanneer dit fisies of konkreet is, en of dit simbolies (ens.) is. Dit bepaal die letterlikheid al dan nie van die teks.
Kom ons kyk na ‘n praktiese voorbeeld in Mat 5:27-30: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.”
Hoe letterlik kan mens hierdie gedeelte nou vat, want duidelik is dit nie die oog of die hand wat die probleem is nie, want die egbreuk is NET in die hart gepleeg. Moet jy dan nou die fisiese hart ook letterlik uitruk, en ander organe wat struikeling aanhelp, insgelyks afkap?
Hoeveel gelowiges wat so sterk voel oor die letterlike hel-implikasie is bereid om as gevolg van hul “affair of the mind” (soos Laurie Hall se gelyknamige boek dit noem) die woord by die daad te voeg? Ek het eerlikwaar nog nie een raakgeloop nie, anders sou die kerke vol mense sonder hande en oë gewees het. Dit is so waar wat sy sê: “Sexual addiction is a private thing. You can shoot up in the secret places of your mind while you’re sitting in a roomful of people.” Inderdaad.
Gegewe die statistiek wat byvoorbeeld Susan Crain Bakos gedoen het in What men really want het die gemiddelde man minstens agt seksuele fantasieë per dag, wat dalk effe oorskat is, maar Dr Archibald Hart se navorsing in The sexual man wys ten minste uit dat geen mens nóóit nié seksueel begeer nie. En dan is seksuele begeerte of gedagte nie al nie – Jesus pas dit wyer toe in Mat 15:19-20 (Ampl): “For out of the heart come evil thoughts (reasonings and disputings and designs) such as murder, adultery, sexual vice, theft, false witnessing, slander, and irreverent speech. These are what make a man unclean and defile [him]; but eating with unwashed hands does not make him unclean or defile [him].” Die aanhaling uit Mark 7:21-22 brei die lysie uit: “Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid.” Ons moet dus eintlik na regte eerder ons hart uitruk, of brein? Regtig?
In Mat 9:4 maak Jesus dit ook op godsdienstige vooroordele van toepassing: “En toe Jesus merk wat hulle gedagtes was, sê Hy: Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte?” Wie kan hiervan ontsnap?
Waarom dan die een deel wat handel oor die oog uitruk en die hand afkap goedsmoeds figuurlik interpreteer, maar die hel ten alle koste letterlik wil interpreteer? Wat sou “hel” dan figuurlik beteken? Het Jesus die verwysing na “doderyk” (die eintlike vertaling van die woordjie “hel”) enigsins letterlik bedoel? Trouens, in Mat 13:34-35 staan daar eksplisiet: “Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie; sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af.”
Mark 9:48-49 handel oor dieselfde gedeelte as Mat 5:27-30, maar brei dit uit: “… as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.”
Wat beteken dit dan nou? Presies wat dit sê: Elkeen sal met vuur gesout word, gered of nie. In Luk 12:49 sê Jesus – “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!” God se wesensaard as verterende vuur moet dus op die aarde, én die mens, let wel: alle mense, kom.
Wanneer gebeur dit, en wát presies gebeur dan? In Mal 4:1-2 profeteer Maleági oor hierdie gebeurtenis wat met die nuwe verbond ‘n aanvang sal neem: “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie. Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.”
Die “dag van die Here” – wat deurgaans in die Ou en die Nuwe Testament as ‘n term gebruik word, word dikwels misverstaan. As ‘n mens byvoorbeeld gaan kyk op Wikipedia Definitions word drie definisies voorgehou, wat al drie handel oor (oordeel in) die eindtyd:
- The End Time, End Times, or End of Days are the eschatological writings in the three Abrahamic religions (Judaism, Christianity, and Islam) and in doomsday scenarios in various other non-Abrahamic religions. …
- The Rapture … at the time of the return of Jesus Christ.
- The Last Judgment, Final Judgment, Judgment Day, or Day of the Lord in Christian theology, is the final and eternal judgement by God of all nations.
Uit die Skrif in Maleági gebeur “die dag van die Here” nié eers aan die einde van tye nie (behalwe as ons die einde van tye sien as beginnende by die opstanding van Jesus uit die dode – baie skrywers van die Nuwe Testament het immers gesê die einde is naby: Rom 13:12; 1 Kor 7:29; 15:24; Fil 4:5; Heb 10:25; Jak 5:8-9; 2 Pet 3:9-11; 1 Joh 2:18-19. Ook blyk dit duidelik uit die deel in Maleági dat hier nie net sprake is van oordeel nie – die Skrif in Mal 4 hierbo dui aan dat daar oordeel is, maar onteenseglik ook (h)erkenning, vreugde en outentisering!
Vuur is die verseëling van God se aanspraak op die aarde. Die dag van sy koms en sy verskyning sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy is die smelter en reiniger van silwer. Heb 12:18 sê duidelik dat ons NIE “gekom het by ‘n tasbare berg nie en ‘n brandende vuur … nie”. Op die dag wat die vuur van God – sy Naam is Jesus – in jou lewe begin manifesteer, sal Sy verskyning wees soos die vuur en alles verander/verwyder wat nie Sy natuur is nie!
In hierdie transisie van denkwyse en die vestiging van die “onwankelbare koninkryk” (Heb 12:28), leer ken ons God as ‘n verterende vuur (vers 29). SY VERSKYNING aan/in/tot ons, is die vuur en dit verander ons “ou aarde” tot “nuwe aarde” (2 Kor 5:17), DEUR VUUR.
1 Kor 3:13 &15 spel hierdie saak uit – “ want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is … (Ons sal) gered (word) …, maar soos deur vuur heen.” Die volheid van verlossing kom deur vuur!
- Sela: Is jy in die vuuroond waarvan Mal 4 praat?
- Lees: Hos 10-14;
- Ondersoek die vervulling: Hos 10:12 (Wenk: Jak 3:18)
- Delf dieper: Lees in Dante Alighieri se gedig: Die Hel (vertaal deur Delamaine du Toit)