“Through faith we understand that the worlds were framed by the word of God, so that things which are seen were not made of things which do appear.” (Heb 11:3, KJV)
Die begrip “hermeneutiek” in die Grieks beteken om te interpreteer, te verduidelik, betekenis te laat ontvou (Webster). As ons die Bybel lees, is daar verskeie maniere hoe dit tot ‘n mens spreek. Eerstens: die sigwaarde van die Woord. Allereers moet ons die Bybel lees as ‘n optekening van ‘n verskeidenheid soorte informasie: geskiedenis, poësie, spreuke, profesie, wette, en so meer. Alhoewel die Bybel met baie tipe stylfigure werk, byvoorbeeld metafoor, vergelyking, ironie, gelykenis, allegorie, simbool, ensovoorts, is dit belangrik om daarop te let dat die Woord as sigself aangebied word in realiteit. Adam en Eva en Jona en die vis en Christus wat uit die dood opgestaan het, was almal real. Die geweldige poging deur byvoorbeeld die Nuwe Hervorming om die Bybel hoogstens as ‘n simboliese boek te gebruik, is nie soos die Woord homself aanbied nie. Ons moet dus op die eerste vlak die Boek lees as ‘n representasie van daadwerklike gebeure. (Dat die sekulêre wêreld jou sal wil brandmerk as ‘n fundamentalis as jy dit doen, sal jy maar mee moet saamleef ☺)
Ten tweede: In die loop van die Bybel is daar algemeen-geldende waardes en ‘n gemeenskaplike moraliteit wat voorgehou word. As die Schaeffers in hul welbekende boek dan vra: How shall we then live? is dit duidelik dat die Woord van God algemeen-geldende riglyne bied vir die lewens- en werklikheidsbeskouing van gelowiges. ‘n Bestudering van die Bybel op hierdie wyse is uiteraard ook legitiem, en gee ons die breë rigting waarbinne die kinders van die Weg wandel.
Bogenoemde twee wyses van eksegese sou ‘n mens die logos-benadering van Skrifbestudering noem, en is uiteraard van groot belang. Op grond hiervan word elke gelowige soos Timoteus wat “van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Tim 3:15). In die twee verse hierna word die belang van die logos-woord duidelik uitgespel: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Die volgende twee eksegetiese benaderings kan ons as rema klassifiseer. (Ons sal die term in die volgende manna deeglik onder die loep neem.)
Dus derdens: die ou en die nuwe verbond se boeke staan in ‘n spesifieke verhouding tot mekaar. Ons het vroeër uitvoerig hieroor geskryf (sien Dag 129 en 130). Dit moet deurgaans in ons lees van die Skrif verreken word. Alles in die ganse Ou Testament is aangebied in aardse terme, “(in terms) of this world” (Heb 9:1 & 23, AMP). Maar alles in die Ou Testament wys heen na vervulling daarvan in Christus, en word derhalwe tekenend van die Nuwe Testamentiese gelowige se geloofswandel. Ons noem hierdie hermeneutiese beginsel dié van afbeeldsels (Heb 8:5) of teëbeelde (Heb 9:24; 1 Pet 3:21). Die grondslag van hierdie beginsel is: die natuurlike gaan die geestelike vooraf (1 Kor 15:46) en dit moet derhalwe ook so gelees word.
- Sela: Besin oor die Skrif uit Hebreërs hierbo in die lig van die lering. (Slaan die Strongs na van die woordjie “framed”.)
- Lees: 1 Sam 18; Ps 140; Luk 15
- Memoriseer: Luk 15:18
- Vir dieper delf: Lees pp 265-266 in Charles Colson se A dance with deception.