Day 134

 

“Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid.” (Kol 3:16, OAV)

Daar moet onder Christene ‘n nuwe waardering kom vir die Woord van God. Steeds vandag is die Bybel steeds relevant en aktueel en spreek dit mee te midde van ‘n konteks wat baie anders lyk as wat ons leefwêreld vandag daar uitsien. Tog bly die Woord – soos Christus – “gister, vandag en môre dieselfde” (Heb 13:8). Ons het ‘n geloofsgemeenskap geword wat in ‘n groot mate los van die Woord ons verhouding met God probeer uitleef. Dit sal helaas nie deug nie. Daar is ‘n Woordreformasie nodig soos in die tyd van Nehemia en Esra. 

Die verhaal word vertel in Neh 8: “die hele volk (het) soos een man op die plein voor die Waterpoort bymekaargekom en aan Esra, die skrifgeleerde, gesê om die boek van die wet van Moses, wat die HERE Israel beveel het, te bring. En Esra, die priester, het die wet voor die vergadering gebring, manne sowel as vroue en almal wat met verstand kon luister, op die eerste dag van die sewende maand. En hy het daaruit voorgelees voor die plein wat voor die Waterpoort was, vandat dit lig geword het tot die middag, in teenwoordigheid van die manne en die vroue en die wat kon verstaan; en die ore van die hele volk was op die wetboek gerig … en toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan … En hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is. Daarop het Nehemía—hy was die goewerneur—en Esra, die priester, die skrifgeleerde, en die Leviete wat die volk onderrig, aan die hele volk gesê: Hierdie dag is heilig aan die HERE julle God; treur nie en ween nie! Want die hele volk het geween toe hulle die woorde van die wet hoor … En op die tweede dag het die familiehoofde van die hele volk, die priesters en die Leviete by Esra, die skrifgeleerde, vergader om naamlik die woorde van die wet te ondersoek.”

Soos die gelowiges van Beréa moet ons “elke dag die Skrifte ondersoek” en bepaal of dit wat vry algemeen geestelik opgedis word, inderdaad so is (Hand 17:11).

Ons sal met hierdie gesindheid – soos dié van Daniël – terwyl hy die Bybelboek van Jeremia bestudeer het, die profetiese boodskap daarin kon verstaan en met dit as profetiese riglyn God se plan tot uitvoer bring (Dan 9:1-2). 

As die Woord ryklik in ons woon (Kol 3:16), en ons “spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing”, sal God sy Woord open (Ps 119:130) IN ons. Dit sal word soos “‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet 1:19)!

  • Sela:  Vra die Here om die Woord in jou te laat vlees word.
  • Lees: 1 Sam 20; Ps 142; Luk 17
  • Memoriseer:  Luk 17:33
  • Vir dieper delf:  Lees hfst 5 in H&R Blackaby se boek Hearing God’s voice.