Die Bybelboek Openbaring maak my bang oor al die vreemde goed daarin en hoe mense dit gebruik om die eindtyd te verduidelik. Hoe moet ek die boek benader?

BYBELBAAK 54

Die titel van die boek, Openbaring, is in Grieks die woordjie apokalupsis, met die afleiding apokalupto as die werkwoord: “to make known, make manifest, disclose what before was unknown”. Anders as wat Hollywood ons gekondisioneer het, het dit NIKS as sodanig te make met die eindtyd nie. Die woordjie beteken openbaarmaking, unveiling, met ander woorde: om ware identiteit bekend te maak, of om dit wat verhul is, te onthul. Dit is ook glad nie die openbaring van Johannes nie, maar wél die “openbaring van Jesus Christus” (Op.. 1:1). Nie net verklaar dit wat die ware karakteraard van Jesus is nie, maar dit verduidelik op ‘n simboliese manier hoe Jesus deur die Christus vermeerder het, en hoe die Christus ge-apokalupto, onthul gaan word (Gal. 1:16; Rom. 8:19; Matt. 16:17-18). In Kol. 3:4 word dit direk só gestel: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar [apokalupto] word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar [apokalupto] word.” Die boek Openbaring is ‘n simboliese boek is, en mag geensins letterlik gelees kan word nie. Die wesensaard van al die “diere” is duidelik simbolies, die konsekwente simboliese getallestelsel wat in die boek gebruik word, die allegoriese aard van episodes, alles, dui daarop dat ons nie die teks letterlik kan lees nie. Die antichris is met ander woorde nie ‘n spesifieke persoon nie, die dier nie ‘n spesifieke histories-bepaalbare vyand nie, die getal 666, die merk van die dier op die hand en die voorhoof, alles, moet simbolies binne die hooftema van die boek gelees word. In aggenome dat dié profetiese boek ook op ‘n dieper vlak handel oor die openbaarmaking van die Christus vandag, is dit van groot belang dat ons ‘n nuwe verstaan moet kry oor hierdie misverstane boek wat met die loop van jare erg deur godsdienstige maniere van dink gemitologiseer is. Dit verhoed ons ook om by die volheid te kom van die herstel van alle dinge op aarde.

Dr. Tom Gouws