BYBELBAAK 90
Die oorsprong van Kersfees is Mitrihaans en so ongeveer 4000 jaar oud, dus lank voor Jesus gebore is. Mithra was die god van lig in antieke Iran, en derhalwe was die son sy simbool (steeds te sien in die vlag van Iran) en sy fees rondom 21 Desember met die wintersonstilstand. Die verskillende heidense koninkryke oor die aarde het ‘n veelheid gode aanbid. Met die verloop van eeue het daar ‘n intersubjektiewe sinergie tussen die primitiewe geloofsisteme van Egipte, Persië, Babilonië en later Rome tot stand gekom en het dit met die verloop van tyd toenemend hul panteon gode laat evolueer tot ‘n oorkoepelende songod. Mithraïsme is na die neerlaag van die Persiërs deur Alexander deur die Griekse soldate Europa toe gebring. Die aanbidding van Mithras het deur Asië en Europa versprei en genoem: Deus Sol Invictus Mithras (die god van die onoorwinlike son). Die Romeine het die geleentheid gebruik om hul god Saturnus en die hergeboorte van die son gedurende die winterewening te vier. Commodus was die eerste Romeinse keiser wat tot Mithraïsme bekeer is. Later, in 270 n.C., het Aurelianus deur ‘n militêre staatsgreep die Romeinse Ryk verenig. In 274 n.C. het hy al die godsdienste probeer verenig onder die staat se jurisdiksie en die kultus van Sol invictus begin. In sy tempel is al die songode van Babilonië voorgestel en geheilig. Teen die tyd van Diocletian (284−305 n.C.) was ongeveer tien persent van die Romeinse Ryk reeds Christene en het dit, ten spyte van geweldige vervolgings, al hoe meer bekeerlinge uit die heidense godsdienste gebring. Konstantijn was die volgende Romeinse despoot, maar het tot bekering gekom in 312 n.C.. Alhoewel hy die Christelike geloof tot staatsgodsdiens verklaar het, het hy dit in baie opsigte met verskeie pagan-gebruike vermeng en die verskillende godsdiensstrome probeer laat saamvloei. In die kerstening van Rome is die Christelike tradisie ook geromanseer, d.w.s. dit het die geur van Romeinse afgode begin saammeng met Christelike waarhede en dit derhalwe in ‘n mate gefiksionaliseer. In 325 n.C. het Konstantijn deur die eerste raadsitting van Nicea die dogma vasgelê wat tot Christelike ortodoksie aanleiding gegee het. Hiertydens is die datums van Pase en Kersfees bepaal. Kersfees is onder politieke druk geproklameer as 25 Desember, die geboortedag van Mithras. Die Reformasie van die sestiende eeu het hierdie oortuiging versterk en geheel en al die heidense wortels veroordeel en die viering van Kersfees totaal ontmoedig. Dit was die algemene wêreldwye praktyk tot vroeg in die 1800’s! Dit alles het my en my gesin vir baie jare nie Kersfees laat vier nie, maar die kinders se ontneming van ‘n tyd waarin die gebroke wêreld welwillendheid soek en dat daar ten spyte van die kommersiële uitbuiting ‘n uitreik is oor grense heen na die geboorteviering van die Jesuskind (al is dit skeefgetrek), en alles wat daarmee gepaard gaan: die liggies, die familiesamesyn, die kinderkonserte, die kersliedere, die wonderbaarlike swaarsteunende etenstafels, die presente, die kollektiewe behoefte aan goodwill, “vrede op aarde en in die mens ‘n welbehae” (Luk 2:14), het ons weer laat dink om weg te kom van ‘n beterweterige godsdienstige ingesteldheid van “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie” (Kol. 2:21). Kersfees het met die loop van eeue dié fees geword wat deur bykans die ganse mensdom gevier word – selfs Boeddhiste, Jode en Moslems, maar veral ook die hele gesekulariseerde samelewing neem ywerig daaraan deel. Die viering van geïnstitusionaliseerde Christelike feeste het helaas bloedweinig met Christus te make. ‘n Mitologisering van die Christusverhaal het die raamwerk gevorm waarop die wêreld ‘n gemeenskaplike fees van welwillendheid vier. Op die oog af is daar nie noodwendig veel daarmee verkeerd nie. Duidelik is die viering van Kersfees nie neutraal nie, dog bly die viering daarvan ‘n persoonlike keuse – dit is absoluut moontlik om met vrymoedigheid ‘n eiesoortige definisie daaraan te gee wat in ooreenstemming met jou geloofsoortuigings is. Paulus se riglyn in Rom. 14:5 is hier vir my geldend: “Laat elkeen in sy eie gemoed oortuig wees.”
Dr. Tom Gouws