Ek ervaar Matt. 26:64 gaan my eindtydbeskouing totaal omvergooi. Kan jy dié vreemde vers verduidelik?

 

BYBELBAAK 174

 

In die hoogdrama net voor sy kruisiging sê Jesus aan die hoëpriester hierdie woorde, in antwoord op die vraag of hy wel gesê het dat Hy die tempel sal afbreek en in drie dae herbou: “Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” Ons weet God het nie ‘n fisiese regterhand nie, want Hy is Gees (Joh. 4:24). Die metafoor van God se regterhand kan verklaar word as die setel van sy heerskappy (Ps. 110:1). Maar hier word dit eksplisiet gestel – die regterhand VAN DIE KRAG van God. Die woordjie vir “krag” in Grieks is ‘dunamis’, wat beteken: “miraculous power”, ook “ability, abundance”. Dit word gewoonlik in die Nuwe Testament gebruik om te dui op die werking van die Gees van God, soos in Hand. 1:8 staan: “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom”. Die Gees bring krag mee, amper soos die dinamo (afgelei van dié Griekse woord) wat in beweging kom en lig genereer. Die Gees is soos ‘n dinamo wat krag opwek; die krag is die gevolg van die Heilige Gees se werking. Die Heilige Gees is die Bron van die krag, maar is nie die krag self nie. Maar die woordjie dunamis word nie net gebruik vir Geeswerking nie. In Matt. 6:13 leer ons dat die krag aan God behoort; die koninkryk van God kom met krag, nie met woorde nie (1Kor. 4:20); iemand soos Elia het in dié krag beweeg (Luk. 1:17); krag is iets wat jy besit en uit jou kan uitgaan (Mark 5:30; Luk. 6:19), dus SALWING; dié krag laat demone uitbeweeg en weggaan (Luk. 4:36); dit bring genesing (Luk. 5:17); dit bring mee dat niks jou kan skade doen nie (Luk. 10:19); dit laat wonders en tekens plaasvind (Hand. 6:8); alle werk van die geloof word met krag volledig gemaak (2Thes. 1:11); dit skenk alles wat tot die lewe en die godsvrug dien (2Pet 1:3); die talente word uitgedeel volgens jou kapasiteit van krag (Matt. 25:15), en meer. Kortom – dit spreek van God se oop hand wat met welbehae ons bemagtig! Bepaald is hierdie “krag van die onvernietigbare lewe” (Heb. 7:16) iets wat elkeen in die Bruid moet hê. Maar benewens dat ons dit ontvang deur die werking van die Gees van God, wat presies is dit? Ons moet weet krag kom uit die “hoogte” (Luk. 24:49), m.a.w. uit die geestelike realm uit. Rom. 1:16 gee dan hierdie geheime sleutel: “die evangelie van Christus is die KRAG van God”. Die Naam Jesus beteken “Verlosser”, en dit is wat Jesus se skeppingsdoel was – “ jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). As Jesus vir sy dissipels vra wie hulle dink Hy is, gebeur die volgende: “Maar julle, wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord en sê vir Hom: U is die Christus.” (Mark 8:29-30). Die “Christus” kan vertaal word met “Messias”, of dan: “Gesalfde”. Die konsep van salwing t.o.v. koningskap (ook profeetskap) in die Bybel is deurgaans dat die hoof gesalf word (Eks. 29:7; 2Kon. 9:3 & 6). As Johannes die Doper – as prototipe die “grootste” van die Ou Verbond – Matt. 11:11) se kop moes waai (Matt. 14:10), was dit om Jesus as hoof van die Liggaam sy regmatige plek te gee (Ef. 4:15; 5:23). Dis belangrik om Jesus en Christus nie te skei nie, maar te onderskei. Jesus is die vleesgeworde Seun van God; Christus is Jesus PLUS die Liggaam – die Hoof is gesalf en die salwing het oor die hele Liggaam geloop (Ps. 133:2). Christus = Jesus + “the corporate Bride”. As ons dan in 1Kor. 1:24 lees: “Christus is die krag van God”, dan voeg dit ‘n totaal nuwe dimensie aan Matt. 26:64. Ons sou dit só kon lees: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die gesalfde Christus van God. Slotsom: die Seun van die mens [= Jesus] sit aan die regterhand van die gesalfde Christus van God! Inderdaad: He “raised us up TOGETHER and seated us TOGETHER in the heavenlies in Christ Jesus” (Ef. 2:6). En boonop – dit gebeur VAN NOU AF AAN.

Dr. Tom Gouws