Ek het pas by ‘n vernuwingsgemeente aangesluit, en ons word gedril in geestelike oorlogvoering. Ek het gelees wat jy daaroor in Bybelbaak 11 geskryf het, maar ons pastoor sê jy is onbekend met die duiwel se planne. Ons moet aanhou die duiwel bind en alles rondom ons salf.

 

BYBELBAAK 87

Een van die gevaarlike nalatenskappe van die Pinkster- en Charismatiese bewegings is dat die duiwel as vyand nommer een geïdentifiseer is, en links en regs gebind word. Ons ken die mantra: “Satan, ek bind jou in die Naam van Jesus. Ons verklaar jy het geen mag …” en wat daarop volg. Maar soos ‘n wafferse Houdini het die duiwel en sy gesante, onverklaarbaar wonderbaarlik, telkens hul losgewikkel van die miljoene Christene wêreldwyd wat hul naarstiglik probeer bind. Al het ek ewe goedgelowig aan die tradisie meegedoen, het ek altyd gewonder oor hoe die demone telkens loskom van al ons gebindery. Al het dit nie vorige kere gewerk nie, het ons nietemin onmiddellik, as ons suspisieus is dat hy dalk ‘n vinger in ons pasteitjie het, deeglik met hom afgereken. Of ten minste so gedog. Op dieselfde trant word daar maande, jare, in party gevalle dekades, vir omgewings gebid en gebedswandelinge onderneem om die Bose uit areas te verdryf (met Jos. 1:3 prewelend op ons lippe). Ons hou deurnaggebedswake en voortdurende profetiese aksies, bou altare en roep die oorwinning oor die demoniese magte en strongholds van die omgewing. Ons reken af met die sterkmanne; ons speel klaar met elke territoriale gees. Tog verander daar min, weinig, indien enigsins, in ons omgewings wat ons so getrou met gebed deurdrenk. Daar is steeds loan sharks, prostitusie, diefstal, owerspel, en Poppie sterf steeds. Die mitologie rondom die Bose kry onverdiende mileage in die skeppende verbeelding van amperwaansinnig-ywerige gelowiges. Hulle salf hulle huise blink van die liters, liters olyfolie (gepas gepars in Israel) en gooi sout teen die Satan. Hulle salf hul karre en plak ‘n plakker: Beskerm deur Ps 91 daarop. En tog klim die diewe al gly-glyende deur die gesalfde venster en ry weg met ons motor, plakker en al. Boetie hyg steeds pornografie na op sy blinkgesalfde rekenaarskerm. Ek lees in die koerant Greta Wiid het selfs haar ontroue man se onderbroeke gesalf. Sak Sarel! In Beeld vanoggend skryf ‘n Christen jawaarlik dat “Satan ‘n ooreenkoms met die Chinese het om die Superhero-klere in China te vervaardig en na Suid-Afrika uit te voer, en as ons kinders dit aantrek, eis Satan hul siel op.” Regtig. Iemand wat die Bybelbaak ontvang, skryf vir my hoekom gebruik ek vraagtekens, want dit lyk na ‘n omgekeerde heksepoot? Is ek dalk van die ander koninkryk??? Paulus is absoluut reg in 2Kor. 2:10-11: Ons ís bedrieg. Ons ís duidelik met Satan se planne totaal onbekend. Omdat ons nie die liefde tot die waarheid aangeneem het nie, sal God die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo (2Th 2:10-11). Ons moet weer “nugter … word, vry van die strik van die duiwel, nadat ona deur hom gevang was om sy wil te doen” (2Tim. 2:26).

Dr. Tom Gouws