Ek is hande opgelê deur ‘n Geesvervulde persoon ná my doping met water en is toe met die Heilige Gees vervul. Maar ek het nie toe, of daarna, in vreemde tale gepraat nie. Beteken dit ek is nié met die Gees vervul nie?

BYBELBAAK 20

Die doping met die Heilige Gees maak dit vir die gelowige moontlik om in die gawes van die Gees te kan funksioneer. Daar bestaan baie misverstande, wanopvattings en onkunde oor die gawes. Gelowiges besit die vrugte van die Gees, maar besit nié die gawes van die Gees nie. Sien dit soos twee tipes bome: een uit wie die vrugte natuurlikerwys groei (= vrugte) en die ander soos ‘n boom waaraan geskenke (= gawes) gehang word. [Dit is nie daar vir versiering nie, maar vir gebruik.] Daar het met die loop van die laaste eeu ‘n baie sterk persepsie ontstaan dat die teken van die doping met die Heilige Gees is spreek in vreemde tale. Hierdie Pinksterbeskouing is nie Bybels korrek nie, en het onnodiglik geweldige onsekerheid en twyfel meegebring. Daar is nêrens enige Skriftuurlike basis vir hierdie sienswyse nie. Die beste ondersteuning hiervan gee Paulus in 1 Kor 12:30: “Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê?” Die antwoord hierop is nee. Soos al die ander gawes, is spreek in tale ‘n geskenk en word dit deur die Gees “gegee met die oog op wat nuttig is” (1 Kor 12:7) – dit word afsonderlik uitgedeel soos Hy wil (12:11). Die waarmerk dat jy met die Gees van God gedoop is, is dat jy die stem van God kan hoor. Omdat hierdie gawes geskenke is, kan iemand dit nie as ‘n bedieningsbesit toe-eien nie. Ek glo nie dis Bybels om te praat van ‘n ‘genesingsbediening’, of ‘n ‘bediening van wonderwerke’ nie. Dit is alles gawes wat uitgedeel word wanneer die Heilige Gees wil. Kleim op besitname maak die deur oop vir demone wat dieselfde funksie (bv. genesing) doen, maar dan geskied dit nié deur die Gees van God nie.

Dr. Tom Gouws