Ek is in groot verleentheid deur hierdie te vra. Ek het deur die advertensie wat oral op padtekens opgeplak is om jou penis te laat vergroot ‘n potjie salf ten duurste by ‘n obskure toordokter gekoop. Na ‘n maandlange gebruik was daar helaas geen verandering nie. Êrens op die internet het ek toe gelees dat dit eintlik ‘n toormiddel is waarmee allerhande demone op jou oorgedra word. Skielik het ek gesukkel om ‘n orgasme te kry. Wat moet ek nou doen?

 

BYBELBAAK 109

 

As daar regtig ‘n duiwel is, ry hy jou nou, spreekwoordelik gesproke. Die moetiesalf is die minste van jou probleme, want dit is bes moontlik net ‘n heksebrou-konkoksie van aquis cream, spoeg en gedroogte marog, sonder enige herkenbare hekse-aktiwiteit. Die meeste van hierdie wonderkure werk ongelukkig met die plasebo-effek, dus is die beste uitwerking moontlik slegs dít wat in jou verbeelding plaasvind tydens momentele sinsbegogeling, wat jou dan nou ook jammerlik ontneem is. In jou geval sal daar helaas geen verandering op lengte- of breedtegraad bespeur word nie, want jy is eintlik net met jou broek op jou knieë gevang, uiteraard nie net by wyse van spreke nie. Nee, mens kry gelukkig nie demoniese oordrag deur salfies nie. Jou probleem lê elders, naamlik die vals beeld wat die internet oor naakte mans en vroue verkoop en die meeste mense twee keer na hul bedeeldheid, of gebrek daaraan, laat kyk. Ons vreet dit helaas alles te maklik vir soetkoek op. Michelangelo se naakte Dawidsbeeld hou die passievolle koning in alle beskeidenheid voor, en bewys dat ‘n man nie noodwendig amper aan bloedarmoede moet sterf elke keer as hy ‘n ereksie kry nie. Maak vrede met jou beskaafde manlikheid en vergeet die donkiehingsmodelle wat so onskaam pronk, asook die wondersalfies. Jou oorbewustheid van die moontlike demoniese infestasie is ook ‘n plasebo-effek – as ‘n mens te veel op ‘n orgasme konsentreer, verloor jy dit dikwels. Wees eerder dankbaar dat jy nie in die Ou Testament godsdienstig op jou onderdele getakseer is nie. Enersyds is enigeen met ‘n gebrekkige skaamdeel nie enigsins toegelaat in die tempel nie (Lev. 21:20); andersyds is dit besonder moeilik om ‘n muskiet te besny. Nietemin, geniet wat God aan jou toevertrou het, dis nie te min nie, nooit nie.

Dr. Tom Gouws