Ek is so verskriklik geïrriteerd met veral tv-predikers, maar dikwels ook Charismatiese kerkleiers, wat mense manipuleer om geld van hulle te kry. Is mý gesindheid verkeerd?

 

BYBELBAAK 43

Die Woord spel duidelik uit in 2 Tim. 2:4 – “Niemand wat ‘n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het.” As God jou roep om vir Hom te werk, sal Hy ook vir jou daaglikse lewensonderhoud voorsien, want jy is in Sy diens. Maar daardie voorsiening val nie uit die lug nie, en daarom het God sterk riglyne oor ons as gelowiges se verantwoordelikheid om ‘n oop hand te hê vir diegene wat die Woord aan hulle bedien. Trouens: “God het ‘n blymoedige gewer lief.” (2 Kor. 9:7). Bedink dit. My en jou finansiële eiesinnigheid om nie te gee nie, versoek God – gee aan God wat Hom toekom (Luk. 20:22-25). Dit laat ook die Liggaam struikel. MAAR, soos met alles in die evangelie, werk God ALTYD met keuse, nooit ooit dwang nie. God het nie jou geld of goed nodig nie – dit gaan oor ‘n gesindheid wat Hy in die Liggaam wil opwek. Ongelukkig is daar predikers en geestelike werkers wat “dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.” (1 Tim. 6:5). Dit is egter ‘n staande beginsel vir God: “Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.” (2 Kor. 9:6). Dit was al ‘n Ou-Testamentiese wetmatigheid: “Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.” (Spr. 3:9-10). Die Engels vertaal die laaste gedeelte met “new wine”, wat vir die Nuwe-Testamentiese gelowige van die uiterste belang is om te ontvang (Jes. 65:8). ‘n Kernvers in hierdie verband is Jesus se belofte in Luk. 6:38 (NJB): “Give, and there will be gifts for you: a full measure, pressed down, shaken together, and overflowing, will be poured into your lap; because the standard you use will be the standard used for you.” Om te gee, vra dus uiteraard ‘n bepaalde gesindheid, in Jesus se woorde in Luk. 12:33: “maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is”.

Dr. Tom Gouws