
BYBELBAAK 131
Daar bestaan bepaald ‘n misverstand rakende twee verskillende perspektiewe op die begrip ‘geloof’. Die meeste mense dink geloof het net te doen met die feit dat jy glo aan die bestaan van God en wát jy van Hom glo, met ander woorde dit in ‘n groot mate blote dogmatiese kopkennis van Hom is. In hierdie opsig praat ‘n mens byvoorbeeld van ‘n geloofsbelydenis, wat dan uitspel WAT jy glo. Geloof, egter, gaan absoluut meer oor die gelowige se verhouding met God, dus geloof as harts- of lewensrespons in vertroue op Hom (“trusting in God”). Wat dus op die oog af lyk of Jakobus in sy sendbrief radikaal standpunt inneem teenoor Paulus ten opsigte van dié saak (in Jak. 2:14-26), word duideliker uit hierdie perspektief. Daarmee saam is dit absoluut so dat Jesus self eerder die Pauliniese frase deurlopend gebruik: “jou geloof het jou gered” (Mat. 9:22; Mark. 5:34; 10:52; Luk. 7:50; 8:48; 17:19; 18:42). Maar wat Jakobus eintlik na verwys, is nie geloof as kennis soseer nie, maar aktiewe geloof in die werkinge van God. Daarom sal die Amplified Bible deurgaans die aktiewe werkwoord van geloof (‘om te glo’ – “to believe”) omskryf as “trust in and rely on Him and adhere to Him”. Jakobus gebruik een van die grootste teologiese feite om sy argument mee te voer. In sy verwysing na Deut. 6:4 – “’Hear, O Israel: The LORD our God, the LORD is one’” sê hy die volgende: “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.” (Jak. 2:19). Geloof is in die allereerste primêre betekenis nie noodwendig WAT jy glo nie, maar DAT jy aktief glo en sodoende ‘n geïntegeerde medewerker van God word van die praktiese geloof wat jou inbind in alles wat God in en deur jou gestalte wil gee. Dit word mooi gestel deur Eph. 3:19 (AB): “[That you may really come] to know [practically, through experience for yourselves] the love of Christ, which far surpasses mere knowledge [without experience]; that you may be filled [through all your being] unto all the fullness of God [may have the richest measure of the divine Presence, and become a body wholly filled and flooded with God Himself]!” Onthou nou dat die woord ‘geloof’ uit die Sanskritwortel kom wat beteken “to unite”, “to bind”. Hierdie is nie blote geloofskennis nie, maar geloofservaring. Geloof-in-aksie bind jou aan en verenig jou met God, en dit maak die werkinge van geloof dan moontlik. Dít bring ‘n kragtige geestelike wetmatigheid tot stand wat IN ons as gelowiges begin funksioneer, te wete: “die geloof wat deur die liefde werk” (Gal. 5:6). Dít kan weliswaar berge verskuif. “Glo jy dit?” (Joh. 11:26).
Dr. Tom Gouws