BYBELBAAK 51
Dit is opvallend dat in die hele Ou Testament van die OAV asook in die AMPL die woordjie “hel” NOOIT voorkom nie. Die sobere Bybelse Ensiklopediesê dit dan ook eksplisiet: “Die Ou Testament het ‘n woord om die plek, waar die dode vertoef, aan te dui, maar nie ‘n woord wat die plek van pyniging van die goddelose aandui nie.” (p. 201). Waarom dan veronderstel dat daar wel ‘n “plek van pyniging is”, sou ‘n mens dadelik vra, as dit nie eens enigsins in die 4000 jaar voor die koms van Jesus voorkom nie? Die woordjie in Hebreeus vir “doderyk”, sheol, word lukraak deur sommige Bybelvertalings as “hel” vertaal. In die Apostoliese Geloofsbelydenis se 12 artikels is daar derhalwe al die jare bely dat Jesus “ter helle neergedaal het” nadat Hy gesterf het. In een van die belydenisskrifte van die Gereformeerde kerke, te wete die Heidelbergse Kategismus, word in vraag 44 die sinsnede “ter helle neergedaal” verduidelik. Volgens hierdie belydenisskrif beteken dit dat Jesus “onuitspreeklike angs, smarte en verskrikkinge deur sy hele lewe gely het en veral aan die kruis en dat Hy ons van die helse angs en pyne verlos”. Uiteraard het Hy vooraf en aan die kruis uitsonderlik gely, maar tog glad nie ná Sy dood nie! Hierdie tipe dubbelsinnigheid skep ‘n vals illusie oor die doderyk, want dit word met “pyniging” geassosieer, en derhalwe sluip ondertone van hel ongemerk in. Die teoloog, prof. Jan van der Wat, sê: “die kerke (voel) ook ongemaklik voel oor die woorde, aangesien dit iets kommunikeer wat nie regtig so is nie.” Later stel hy dit dan so: “‘Hel’ in die Nuwe Testament beteken dus nie outomaties die plek waar jy braai vir jou sonde nie, om dit so uit te druk. Dit beteken in baie gevalle bloot die plek waar die dooies is.” En dan, alhoewel dit verskil van sy kerk se leer, sê hy: “Persoonlik verkies ek om ‘ter helle neergedaal’ vanuit ʼn Bybelse hoek te lees as ‘in die doderyk neergedaal’.” Dít is uiteraard die waarheid – “ter helle neergedaal” beteken streng gesproke bloot “neergedaal het na die doderyk”. Die hele argument hierbo moet vir die lesers aandui dat daar deurgaans ‘n (on)subtiele poging is van die kerk om die konsep van die hel as ‘n plek van pyniging daar te stel, al leer die Bybel dit geensins nie.Dit is skrikwekkend hoe diepgesetel is die oorlewering oor die hel, dat ons die Bybel probeer inforseer in ons mitologisering.
Dr. Tom Gouws