BYBELBAAK 173
Een van die grootste probleme in die verstaan van die Ou Testament is dat Bybelgedeeltes buite konteks gelees word, en nie binne die “hele Skrif” (2Tim. 3:16) verreken word nie. Dit is belangrik dat ons gesonde eksegetiese beginsels in Skrifuitleg moet aanleer, maar ek noem drie van groot belang. 1. In Joh 10:35-37 verduidelik Jesus dat die Skrif nie kan gebreek word nie. Toe die Fariseërs dink dis godslasterlik dat Jesus sê Hý is die Seun van God, haal Jesus aan uit Ps. 82:6 – “Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste—” Dan antwoord Jesus hulle: “Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik—omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God?” Hiermee sê Jesus dat ons al die onderdele van die totale Skrif moet verreken, want geen enkele onderdeeltjie kan gebreek word nie. Die totale geïnskribeerde Lam moet geëet word (Num. 9:12)! Geen been van die hoofliggaam van Skrifargumente mag gebreek word nie (Eks. 12:46; Joh 19:36). Ons het die totale Ou Testament nodig om Hom te verduidelik. 2. Ons weet, in Jesus se woorde, dat Johannes die Doper die figuur is in wie die Ou Verbond gekulmineer het (Mat. 11:11), en dan sê Hy twee verse verder: “al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer” (vers 13). Daar lê dus geen futuristiese profetiese vervulling in die totale Ou Verbond, behalwe dit wat in Jesus Christus vervul gaan word nie. Daarom is die Message se vertaling klinkklaar duidelik: “But if you read the books of the Prophets and God’s Law closely, you will see them culminate in John, teaming up with him in preparing the way for the Messiah of the kingdom.” Dis om hierdie rede dat Op. 19:10 verklaar: “die getuienis van Jesus is die gees van die profesie”, of anders gestel: die getuienis oor Jesus is die gees wat die profete geïnspireer het. Francis Derck sê dit mooi in sy boekie The Names of Christ: “He is the Man of prophecy or prophecy has no meaning … As the ages rolled by, the rivulet that first gushed forth in Genesis grew to a mighty stream and led to Him.” (p. 11). Dus: “Aangaande Hom getuig al die profete …” (Hand. 10:43). 3. In hierdie lig dan, volgens Paulus se uitvoerige gebruiksaanwysing vir die Ou Testament (met baie goeie toegeligte voorbeelde) in 1 Kor. 10, kom hy tot die slotsom: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.” (vers 11). In Rom 15:4 het hy dit nog duideliker uitgespel: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.” Alle Skrif in die Ou Testament moet dus soos volg gelees word: Allereers as historiese feit (wat in ‘n spesifieke plek en tyd gebeur het primêr ten opsigte van die verbondsvolk, Israel). Tweedens as heenduidend na die Verlosser, Jesus, en God se ingrypende plan met Hom in die geskiedenis van die wêreld. Die idee van “die Een wat sou kom” (Mat. 11:3) is egter veel ouer as Judaïsme, dus beteken sy pre-inkarnasiestaat, teofanie, geboorte, lewe, dood en opstanding meer as blote Messiasskap vir die Jode. Derdens as tipologies heenduidend na die herstel van Jerusalem en sy opbou “tot op ‘n Gesalfde” (Dan. 9:25), die Nuwe Jerusalem, oftewel: die Bruid (Op. 21:2 & 9) en God se ingrypende plan met Hom en Haar, Jesus en sy Christus (Op. 11:15), in die volvoering van die geskiedenis van die wêreld.
Dr. Tom Gouws