BYBELBAAK 49
God is ‘n enige (ONLY) God (Deut. 6:4). In Jesus, wat as eniggebore Seun uit Hom gestalte gekry het (Ps. 2:7), kry sy Ewige Vaderskap volgens sy ewige voorneme (Ef. 3:11) beslag. Dit beteken voorts dat nét hulle wat dan uit Jesus (weder)gebore word, die Goddelike saad van seunskap verkry. Dit maak ‘n nuwe geslagslyn ná Jesus die Seun moontlik, ‘n geslag wat God as Vader moet leer ken. Rom. 8:15 stel dit dat die gees van vrees teenoor “die Gees van aanneming tot seuns” staan. Die diepste worteloorsaak vir die gees van vrees in ‘n gelowige is dat hy/sy nie God as Vader ken nie (Matt. 7:23). Die titel van die boek van die Moslemvrou wat tot geloof in Jesus gekom het, Bilquis Sheikh, vat die diepste drumpelvrees vir God treffend saam: I dare to call Him Father. In die jare wat ek betrokke is by die restorasie van mense is dit loshande dié saak wat die grootste verwonding veroorsaak: vaderskap, óf die gebrek daaraan óf die misverstaan daarvan. In die kultusfliek Fight Club sê een van die hoofkarakters: “Our fathers were our models for God. If our fathers bailed, what does that say about God?” Uiteraard is daar groot verwarring oor natuurlike én geestelike vaderskap in die wêreld – dis nie soseer ‘n verantwoordelikheid wat ‘n mens dra as wat dit ‘n heenwysing is na die Vader, wat Ef. 4:6 so mooi kenskets as “een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is”. E.W. Kenyon, in sy klassieke teks, The Father and His Family, het ons geleer: “All fatherhood love in the human comes out of the bosom of our Father God. He is the fountain of fatherhoods.” Van belang vir ons huidige onderwerp is dat geestelike slawerny ons weerhou daarvan om met God as Vader te assosieer, en hierdie slawerny het ten diepste te doen met vrees vir die Vader. Dáárom is dit so belangrik dat die gees van slawerny net verplaas kan word met “die gees van aanneming tot seuns”. Hierdie gees roep uit jou diepste wese tot die Vaderskap van God. Die gees roep Hom: Abba, Pappa, Pappa … Jesus se woorde in Joh. 14:10 rondom sy verhouding met sy Pa is die raakste beskrywing van die realiteit wat die gees van slawerny teenstaan: “It is the Father, living in me, who is doing his work.” Dare to call Him Father en breek die gees van slawerny in jou lewe. En leer Hom as Pa ken.
Dr. Tom Gouws