BYBELBAAK 112
N.P. van Wyk Louw sê in een van sy gedigte: “Wat in sterrehelderte geskryf is, skryf ons na in stof.” In ‘n groot mate is dit ‘n mooi kensketsing van die mens se onvermoë om die grootheid van God se wese, sy skepping en sy plan te begryp. As ons ons daaroor uitlaat, kan dit altyd bloot in terme wees van “altyd benaderend, nooit-bereikend”. Veral as ons praat oor tyd en ruimte, en redeneer vanuit die beperktheid van ons onherroepelike verknegting aan tyd en ruimte, spreek ons uitsprake van totale onbegrip, veral as die astrofisici ons uitwys dat die heelal sentrifugaal uitdy teen drie miljoen kilometer per uur. God is buite tyd en ruimte. Salomo in al sy wysheid het iets hiervan gesnap toe hy bid “Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie …” (1Kon. 8:27). Inderdaad, soos Job (37:23) dit ook verwoord het, is dit moeilik om met ons beperkte tydruimtelike belewenis ‘n God te leer ken wat per definisie buite daardie belewenis werksaam is. Anders gestel: God funksioneer in ander dimensies as die dimensies waarbinne die mens funksioneer. In Jes 57:15 word daardie dimensies die “ewigheid” genoem wat God bewoon – duidelik sonder die tydsassosiasie wat ons gewoonlik met ‘ewig’ het. As Gen 1:1 begin met: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape …”, beteken dit dat God kon uiteraard nie die universum geskape het as Hy deel daarvan is/was nie – Hy is buite tyd en ruimte. Uit ‘n menslike oogpunt is die universum oneindig voor, in elke opsig. As jy – soos die Psalmdigter in Ps 8:3-4 bloot die sigbare hemel aanskou (= die uitspansel: Gen 1:8), “die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het”, ervaar jy onmiddellik ‘n gevoel van die onmeetlike God met wie jy te doen het en kan ook jy nie anders om te sê nie: “wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” Bedink dit weer: God was buite die aarde én God was buite die hemel. Volgens die fisikateorieë van partikels en relatiwiteit het ten minste tien ruimtelike dimensies bestaan met die skep van ons sigbare realiteit. Met die skepping van die aarde, wat wetenskaplikes soos Stephen Hawkins die “big bang” noem, het tyd en ruimte ‘n aanvang geneem. Heb 11:3 stel dit eksplisiet dat met God se skepping van die hemel en die aarde die sigbare dinge geskep is uit onsigbare dinge. Uit ‘n veelheid van onsigbare dimensies waarin God gestalte gee, het die vier dimensies (lengte, breedte, hoogte en tyd) wat ons as realiteit beleef, ons werklikheid gekonstrueer. Ons menslike bewussyn kan nét funksioneer in hierdie beperking. Tyd en ruimte weer, weet ons uit die fisika, is ‘n funksie-afhanklike van materie. Of dan: materie is die ‘neerslag’ van enige partikel wat stadiger as die spoed van lig beweeg. As wesens wat bestaan op grond van ‘n sodanige kontinuum, is dit bykans onmoontlik om enigiets buite dit te bedink. Ons kan dit derhalwe net probeer verstaan, maar ons kan begryp dat ‘n Wese wat buite hierdie menslike dimensies funksioneer uiteraard nie beperk is deur die wette wat hierdie dimensies reguleer nie. Ons weet uit die Skrif dat God Gees is (Joh. 4:24) en derhalwe is Hy ook, per definisie, “onsigbaar”. Maar Jesus, sy Seun, wat uiteraard ook in die geesdimensie geleef het voordat Hy mens geword het (Joh. 8:58), het fisies die aarde dimensie betree, met ‘n fisiese liggaam, wat honger was, gesweet het, moeg geword het, beseer kon word, en uiteraard kon sterf. Hy kon in die vier dimensies van “volkome mens” (1Joh. 3:5) vir God laat ervaar wat die mens is, en derhalwe is God “vol medelye en ontferming” (Jak. 5:11), omdat Hy aan sy Lyf ervaar het hoe dit voel om ‘n kleihuis te bewoon, die mens wie se “grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos ‘n mot” (Job 4:19). Hy gee ons spesifiek die Heilige Gees sodat ons die “dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 13:35) kan leer verstaan, en in staat wees om “die verborge dinge” te bring tot “geopenbaarde dinge”. Hierdie Wonderbaar wat ons in ons soeke ontdek, is die onverwagte verskyning van die onpeilbare Oorsprong self, ook IN ons en in ons omstandighede. Kry berusting in Ps. 25:14 – “Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.”] Deur die Gees van God se werkinge IN ons word daar iets wat toegesluit is, weggelê en verborge is, oopgesluit, oopgedek en openbaar gemaak.
Dr. Tom Gouws