BYBELBAAK 82
Die woordjie ‘hipnose’ beteken in Grieks “droom” en dui op die bewussynstoestand soos as iemand slaap, maar eintlik wakker is. In die mitologie is Hypnos die gepersonifieerde gees van slaap, voorgestel met ‘n horing vol opium en water uit die Lethe-rivier (= om te vergeet). Hy woon in Erebos, die land van ewige duisterheid. Sy tweelingbroer is Thanatos, wat die gestalte van die Dood is. Hierdie literêre verwysings behoort al aan te toon dat die beoefening van hipnose dikwels grens aan die skemerwêreld. Inaggenome dat die vader van hipnose, Franz Mesmer (waar ons woord ‘mesmiriseer’, wat ook ‘hipnotiseer’ beteken, vandaan kom) dit as deel van sy okkultiese praktyk uitgevind het, omdat dit soortgelyk is as transe wat tydens séances plaasvind, behoort gelowiges twee keer te laat dink voordat hulle daarby betrokke raak. Dit is waar dat baie van ons daaglikse blootstelling (bv. aan die advertensiewêreld, die tv/musiek/films/rekenaarspeletjies/lofprysingdienste/”soaking”/ YouTube-videos soms sublimale (onderbewustelike) programmering meebring, en presies dieselfde tegnieke gebruik as hipnose (ontspanning, konsentrasie, suggestie en herhaling). Hipnotisering is eintlik net ‘n ekstreme vorm van suggestieherhaling, en kan ook selfgeïnduseer word. Die grootste probleem met hipnose is dat dit in wese ‘n vorm van bewussynsbeheer (“mind-control”) is, en derhalwe kan dit misbruik word. Daar is gelowiges wat glo dat dit die persoon wat gehipnotiseer word se oopgestelde denkfakulteit dan eweneens oop is vir demoniese werking (ook by narkose en bv. tydens die “slain-in-the-spirit” Toronto-tipe ervarings). Dan is daar ook die wesenlike gevaar van valse herinneringe wat deur suggestie in die onderbewuste geplant word. Tog is daar baie goeie terugvoer van hipnose as etiese behandelingspraktyk in die genesing van verslawings (soos rook, dwelms), pyn, trauma, vrese, obsessies, siektes (soos bulimie en anoreksia), en so meer. (Lees John Court se boek: ‘Hypnosis, Healing and the Christian’ hieroor.) Maar – die verandering of modifikasie van denke behoort primêr deel van die gelowige se groeiende geesnatuur (Rom. 12:2) te wees, en hoef nie bykomend op hipnose te steun nie. 1Kor. 6:12 sou bepaald op die praktyk van hipnose van toepassing kan wees: “Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.” (“but I will not be brought under control by anything”). Maar dit is veral ook van toepassing op die rookverslawing.
Dr. Tom Gouws