Groetbrief

Vriende in Christus

  • Sukkel jy om tot geestelike volwassenheid te groei?
  • Het jy ‘n probleem om jou geestelike outoriteit uit te oefen?
  • Hoor jy God se stem duidelik en is jy in staat om in wat Hy sê te wandel?
  • Weet jy wat is jou skeppingsdoel en vervul jy dit?
  • Verkry jy die beloftes van God en ervaar jy “lewe en oorvloed”?
  • Word jy genoegsaam toegerus om jou roeping te vervul?

As ons werklik eerlik is met onsself en die Here, sal jy bes moontlik ja op die eerste twee vrae en nee op die laaste vier geantwoord het. Ek worstel nou al baie jare met die antwoorde op hierdie vrae, en het by Vader probeer antwoorde vind hoekom die meeste gelowiges nie “overcomers” is nie. Gegewe ons persoonlike en geestelike lewe, ons lewenskwaliteit en die onvervuldheid en frustrasies van ons geestelike wandel, is baie min van ons “meer as oorwinnaars”. Wat is die rede hiervoor?

deel van ‘n bevoorregte generasie

Elke persoon wat hier lees, is deel van ‘n uiters bevoorregte generasie wat meer gemaklik is as enige generasie uit ons verlede. Ons hoef nie te voet te gaan soek na brandhout om vuur te maak nie – ons druk bloot ‘n skakelaar. Ons hoef nie myle ver te loop agter water aan en dit met groot moeite op ons koppe terugdra huis toe nie – ons draai bloot ‘n kraan, ‘n tuinslang oop; duik gou in ons private swembad in. Ons hoef nie vir uintjies te gaan grawe, of ‘n haas in ‘n wip vang, of ‘n bokkie gaan skiet, of daagliks op die lande mielies te gaan versorg nie – ons ry gou supermark toe. En soveel meer voorbeelde kenmerk ons moderne lewe.

Maar alles wat die moderne lewe so gemaklik vir ons maak, en vir ons meer tyd moes koop, het presies die teenoorgestelde gebied. Ons het só oorweldig geraak deur die verskeidenheid en die gedurige verandering wat die moderne lewe bied, dat ons kwalik tyd het om dit te ontgin óf te geniet. Trouens, ons word so oorweldig daardeur dat dit ons dikwels angstig laat voel – nie in beheer nie. Hoe meer ons tussen kontinente vlieg, op die internet swerf, met die klik van ‘n vinger bykans alles kan beheer, duisel in die geweldige keusemoontlikhede van ons plaaslike supermark, knus tuis raak in die global village, verstik ons stilletjies aan die potjiekosooraanbod. En voel ons mettertyd: There is so much to do, so little time.

die oorbelading van die eietydse gelowige

Veral op die gebied van die beskikbaarmaking van inligting en kennis is daar so ‘n ontploffing en ooraanbod wat ons skielik toegang gee tot ‘n onbeperkteid dat ons heeltyd voel ons is nie genoegsaam onderlê in die essensiële nie. Maar wat die essensiële is, weet ons nie presies nie, en ons het nie die tyd om uit te vind nie. Ons word stelselmatig ingeweef in ‘n samelewing waar fragmentasie, oorversadiging en oorbelading, die norm is. Daar is te veel keuses, te veel om te doen, te veel mense om mee verhouding te hê, te veel om te sien, om na te luister, te lees, om op te vang, om te koop, te veel, te veel:

“Each choice sprouts with its own questions. Might we? Could we? Should we? Will we? Won’t we? What if we had? What if we hadn’t? The forest of questions leads deeper and deeper into the dark freedom, then to the ever darker anxiety of seemingly infinite possibility.” (Os Guiness, The Call. p. 166.)

(Die antwoord hierop, vir party gelowiges, is om in ‘n tipe askese te gaan: ignoreer dat daar ‘n realiteit is buiten ons geestelike ervarings. Sny die blootstelling uit, probeer die aanslag van die wêreld tot ‘n absolute minimum beperk; raak nie, smaak nie, roer nie aan nie (Kol 2:21). Tog is dit nie die tipe lewenshouding wat God van ons vra nie – alhoewel ons in die wêreld is, is ons nie van die wêreld nie. Ons gebruik hierdie Skrif presies teenoorgestelde as wat ek dink die bedoeling daarvoor was – dit praat van ‘n aktiewe medewerking in die wêreld sonder om ons identiteit in Christus prys te gee.) 

oorbelaai maar steeds geestelik honger

Wat ons egter moet besef, is dat die fondament van die evangelie van Christus, om te kan kies, op soveel vlakke deur die koninkryk van duisternis geperverteer word, dat dit die meeste gelowiges se grootste afgod geword het. Ons het slawe geword van ons reg tot keuse. En ons nimmereindigende aanspraak op hierdie reg het ons in ‘n labirint van gemak en kortstondige bevrediging gebring waarbinne ons gevange gehou word. Ons bly kitskos kies, oor die bekendheid, die gemak daarvan, al versadig  of voed dit glad nie.  

Die grootste tekortkoming in hierdie ooraanbod van die eietydse lewe is die gebrek aan samehang en integrasie wat dit meebring. Dit bring ‘n aanslag op ons heelheid, en dit beïnvloed veral ons vermoë om sin te maak van ons lewe en dit waarmee ons besig is. Ons blý honger. En die omstandigheidsgetuienis van die oorgrote meerderheid gelowiges is dat weinig van ons ‘n getuienis het van dit wat Jesus sy volgelinge gewaarborg het: “lewe en oorvloed” (Joh 10:10b). 

Ons het met die loop van tyd geestelike aktiwiteite met geestelike lewe verwar; godsdiens verwar met verhouding. Op geestelike vlak het die kennisontploffing miskien die grootste invloed gehad. Daar is soveel waarmee ons op geestelike vlak gebombardeer word: soveel God-channels, soveel geestelike musiek, soveel kassette, cd’s, dvd’s, soveel boeke, soveel kerke, soveel menings, soveel bevraagtekening, soveel verdagmakery. Die hele geestelike worsmasjien het ‘n megamonster geword wat die Christene heeltyd besig hou met soveel keuses en soveel nuwe dinge dat hul nie bewus word dat hul aan geestelike anoreksia ly nie. 

Ons leef duidelik in die tyd waarvan Amos 8:11-13 geprofeteer het:  

“Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die HERE te soek, maar hulle sal dit nie vind nie. In dié dag sal die mooi jongedogters en die jongmanne van dors beswyk.”      

roeping as die bakermat van bestaan

Hoe en waarmee kan dié siek postmoderne toestand waarbinne die eietydse gelowige hom bevind, enigsins teengestaan of teëgewerk word?

Die enigste antwoord hierop lê opgesluit in die begrip roeping. Christus maak in Joh 15:16 (KJV) hierdie ongelooflike uitspraak: “Ye have not chosen me, but I have chosen you, and ordained you …” Jy is dus deur God gekies voordat jy Hom gekies het (maar moet asseblief nie nou verstrik raak in die doktrine van uitverkiesing nie – ons kom later in detail daarop terug.) Jy is egter nie net gekies nie; jy is ook “ordained”: “to place (in the widest application, literally and figuratively; … advise, appoint … commit, conceive, give, … purpose, put, set (forth), settle …” (Strongs). Omdat jy gekies is, omdat jy geroep is, is daar ‘n roeping op jou lewe. Jy is geposisioneer, aangestel, jy het ‘n doel, ‘n purpose. As jy dit ontdek, en dit kies, het jy, soos Rick Warren dit in sy gelyknamige boek noem: A purpose-driven life.

Maar jy moet dit allereers kíés. God het dit in Deut 30:19 só gestel: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag …”

As jy weet wat jou roeping is, en dit vasgemaak het, word dit die belangrikste wapen in jou stryd teen die meervoudigheid van verleidende keuses. Jy begin leer hoe die seduction van die moderne tyd daarop ingestel is om jou roeping te roof en dit te systap. Dit leer jou fokus op dit waarvoor jy geskep is.

geestelike kitskos met geen voedingswaarde

Jesus was nooit frantic aan die rondhardloop om alles te doen wat gedoen kan word nie – Hy het immers ‘n geweldige groot roeping gehad wat Hy moes vestig binne ‘n baie kort tydjie, maar Hy het presies geweet wat om te doen en wat om te los. Hy het net een man by die bad van Betesda genees, nie die honderde ander hoopvolles nie. Hy het hom nie gesteur aan die menigtes wat hom gevolg het nie; Hy het die agterdogtige Saggeus wat daar ver van ‘n veilige afstand af die kat uit die boom wou kyk, uit die wildevy geroep en gevra om by hom spesifiek te gaan eet. Hy het waarlik beslag gegee aan dit wat Hy in Joh 17:4 gebid het: “Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.”

Ek was die afgelope jare betrokke by baie geestelike toerustingeleenthede en het tot dié ontstellende slotsom gekom: die oorgrote meerderheid mense wat hierdie behoefte aan dieper geestelike kennis en ervaring het, het ‘n uiters beperkte retensie van wat geleer is, kan dit moeilik aan ander weergee of leer, en dit het ‘n baie beperkte effek op hulle wandel met God. Die Woord word nie vlees nie. Formele leergeleenthede soos seminare of kampe het dikwels ook ‘n oorladingsfaktor, en dit gaan dan mank aan integrasie op persoonlike vlak. Openbaringe kom soos ‘n sound-bite-energieborrel en bars ons denkraamwerk binne; ons is dikwels so met ontsag vervul oor die nuwe kennisopenbaringe dat ons amper in ‘n soort breinverlamming verval wat maak dat ons kwalik iets onthou die volgende dag of die week daarna. Die nuutjie vervaag langsamerhand en verander derhalwe geen duit aan ons realiteit nie. Intussen word dié snelvuuropenbaring opgevolg met nog ‘n paar nuwe openbaringe.

In die aanslag van ‘n samelewing wat ons in ‘n alvinnigwordende wentelbaan indwing om tred te hou met die diktering van als wat nuut en dwingend is, verloor ons dikwels die essensie van ‘n wandel met God. Ons het in ons hedendaagse eeu ‘n nuwe manier van geestelike mobilisering en toerusting nodig. Wat in Hos 4:6 staan, is inderdaad vandag nog steeds waar van die kinders van die Here: “My volk gaan te gronde weens ‘n gebrek aan kennis.” En soos die kennis aan die einde van die tye sal vermeerder – soos Daniël profeties voorspel het – moet ons ‘n nuwe manier van doen vind om soos ‘n bekwame boumeester ‘n deeglike fondament te lê (1 Kor 3:10), waarop met vrug ‘n geestelike huis gebou kan word (1 Pet 2:5).

‘n sleutel om die situasie te bolwerk

Terwyl ek hieroor gebid het, het die Here vir my Spr 22: 20-21 as sleutel gegee. Dit handel oor “kernagtige spreuke” wat “raadgewinge en kennis” kan oordra sodat “waarheid” bekom kan word. Ons weet die Woord sê dat Christus nie net die “Weg” is nie, maar ook die “Waarheid” (Joh 14:6). En as jy Hom as die Weg volg (soos wat die eerste Christene inderdaad ook genoem is – sien Hand 9:2), lei dit jou noodwendig tot die Waarheid, maar bring dit jou ook tot die Lewe.

Kernagtige spreuke het met die eerste lees gelyk na ‘n handige item in ons dae van gewelddadige oordaad. In my gees het ek die prentjie gesien van die afgemete porsie manna wat die Israeliete elke dag getrou in die woestyn gekry het. Ons weet alhoewel dit “brood van die engele” (Ps 78:25) genoem is, dit eintlik ‘n heenwysing was na Christus as die Brood van die lewe wat Homself uitgedeel het (Joh 6:33-35) aan dié onderweg na die Land van Belofte. Maar dis die daaglikse porsie daarvan, die: “Gee ons ons daaglikse brood” (Mat 6:11) wat vir my spesifiek uitgehef is. As ons elke dag, by wyse van spreke, ons porsie Christus kan kry in ‘n kernagtige lering, en dit word soos ‘n spyker in die geestelike realm vasgeslaan (Pred 12:11), “fastened as a nail in a sure place” (Isaiah 22:23), kan ons ons roeping en verkiesing verseker só vasmaak (2 Pet 1:10).

‘n nuwe formaat vir geestelike bediening

Ek het my lewe lank ‘n broertjie dood aan die sogenaamde dagstukkies, want vir baie Christene is dit ‘n manier om deur die meditasies van ‘n ander geestelike ‘n verhouding met God te hê. Maar toegegee, ek het self geweldig baie geleer deur die dagstukke van mense soos Andrew Murray, Oswald Chambers, Gwyn Shaw. A.W. Tozer en Henry Nouwen. Dus: as ek Vader reg verstaan (het), is hierdie nie net “geestelike oordenkings” nie, maar daaglikse kernagtige verdiepingstukke om die Bruid te begelei tot geestelike volwassenheid. 

Die omvang van die taak het my laat duisel – dit sou vir ‘n seisoen bykans ‘n voltydse onderneming wees om dit met uitnemendheid uit te voer, alhoewel ek besef het dat dit ‘n baie meer effektiewe wyse van bediening sou wees as ons huidige formaat van bediening. In die worsteling met die opgaaf van die onderneming, ontvang ek toe die volgende Skrif: Sag 11:12-13:

“Daarop sê ek vir hulle: As dit goed is in julle oë, gee dan my loon; en so nie, laat dit dan staan. Toe het hulle my loon afgeweeg: dertig sikkels silwer. Hierop sê die HERE vir my: Gooi dit vir die pottebakker – die heerlike prys waarmee Ek deur hulle gewaardeer is! En ek het die dertig sikkels silwer geneem en dit in die huis van die HERE vir die pottebakker gegooi.”

Ek voel toe die Here sê ek moet dié studiestukke hoofsaaklik elektronies versprei en as dit goed is in die oë van die ontvanger, moet hul vrywillig dertig sikkels silwer daarvoor na die pottebakker gooi. 

gooi dertig stukkies silwer na die pottebakker

Ek was huiwerig hieroor – dertig sikkels silwer klink te veel na die loon wat Judas ontvang het vir sy verraadsdaad en wat uiteindelik gebruik is om grond van die pottebakker te koop wat later gebruik is as ‘n begraafplaas vir vreemdelinge (Hand 1:19).

Toe ek hieroor bid, het ek die volgende verstaan: dit is duidelik ‘n Ou-Testamentiese heenwysing na die Judas-verraad, maar dit het ook duidelik ‘n geestelike teëbeeld (1 Pet 3:21). Dwarsdeur die Skrif speel die begraafplaas ‘n belangrike simboliese rol, iets wat ons later verseker verder sal verken. 

Uit die Nuwe Testament is dit interessant dat die doop van die gelowige dikwels voorgehou word as ‘n begrafnis. Kol 2:21 is ‘n goeie voorbeeld daarvan:  “omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop”, maar miskien tog kom die beste illustrasie uit Rom 6:3-6:

“Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.” 

begraafplaas met ‘n taakomskrywing van lewe

‘n Begraafplaas in simboliese sin is dus nie so ‘n slegte plek per definisie nie! Veral as ‘n mens hiermee saam lees dat die proses van sterf aan die self en die doop as begrafnis ook terselfdertyd die plek van opstanding word! Maar dit is eers as jy die woordjie “sonde” raaklees teen die einde van die aanhaling hierbo, dat jy die belangrikheid van hierdie verwysing begryp. In die oorspronklike Grieks beteken die woordjie hamartia “om die merk te mis”, jou Goddelike skeppingsdoel te mis.

In die bewustheid van Johannes die Doper wat gesê het: “Hy moet meer word, maar ek minder” (Joh 3:30), is die begraafplaas van die vreemdelinge húlle wat in ‘n proses is om hulle lewe af te lê, te sterf sodat Hy sy lewe deur hulle kan leef  (Gal 2:20). Ons almal was soos Judas na wese verraaiers (Pred 7:20; Jes 64:6; Rom 3:23), en dis Sy bloed op die grond wat die Lewe vir ons gekoop het. Nét binne hierdie sterwe van self kan die gelowige in sy Goddelike skeppingsdoel opstaan. 

vrywillig, dertig sikkels silwer

Híérvoor, sê die Here, moet jy dertig sikkels silwer gooi, maar dis vrywillig. “As dit goed is in julle oë, gee dan my loon; en so nie, laat dit dan staan.” Wat sou dertig sikkels silwer wees? R3, R30, R300, R3000? Hoe meet jy so iets?

Jy kan na regte nie ‘n waarde daaraan toevoeg nie. Dis al drie, maar dis ook niks. As dit die beginsel is waarop hierdie os wat dors gevoed moet word (1 Kor 9:9), pas dit my, want ek het nog altyd met my hele hart Spr 23:23 geglo: “Koop waarheid en verkoop dit nie. Dus kan ek aan alle gelowiges wat ‘n diep begeerte het tot begeleiding tot geestelike volwassenheid dit aanbied om te koop sonder dat ek dit hoef te verkoop! Dus, jy ontvang manna drie maal per week en soos jy kan, gooi dertig sikkels silwer terug na die pottebakker as dit goed is in jou oë. Niks hiervan word opgecheck nie, dis ‘n vrywillige gawe wat gegooi word. Duidelik sal die Here jou lei in wat vir jou moontlik is.

Met elke lering word ‘n paar ekstras ingegooi, soos wat dit relevant is:

  • ‘n Sela-opmerking. Sela beteken: “Pause a while and think about it.” Dit is veral bedoel as ‘n rigtingduider om die lering te bedink, op ‘n praktiese wyse vas te maak en die saak met God te onderhandel (Jes 1:18a; 41:21; 43:26). Daar word ook gebedriglyne gebied. 
  • As jy die Bybel in een jaar wil deurlees, word daar vir die jaar lank ‘n aantal hoofstukke gegee wat jou in staat sal stel om dit te doen. 
  • Kol 3:16 sê: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon.” Daar word by elke dag se lering ‘n Skrifgedeelte voorgestel wat jy met groot vrug kan memoriseer. 
  • Dieper delf-info word ook gegee. Dit is verwysings na ander boeke, artikels of cd’s. Lg kan bestel word by Matzie Lee @ 082 870 6413 of by matzie.lee@elijahafrica.com 
  • Kennisgewings en aanverwante info en wie weet wat nog! 

“Toe het ek my mond oopgemaak, en Hy het my dié rol laat eet en vir my gesê: Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet.” (Eseg 3:2-3). Mag jy eet, en versadig word!

In Sy diens

Dr Tom Gouws