Het Jesus in die tuin van Getsémane werklik bloed gesweet?

BYBELBAAK 8

Die Ou en Nuwe Vertaling van die Bybel stel dit in Luk. 22:24 dat Jesus se sweet soos bloeddruppels geword het. Daar is ‘n mediese toestand genaamd haematridrosis wat beteken dat die klein bloedvaatjies naby die sweetgaatjies as gevolg van enorme spanning bars en dat sweet só bloederig word. Dit is fisiologies dus moontlik. Maar die metafoorwaarde in Grieks impliseer onteenseglik meer. Deel van die eerste Adam se vloek op die mensdom is dat hy in die sweet van sy aangesig sy brood sal eet (Gen. 3:19). Dit dui simbolies op werk as moeite om brood op die tafel te sit, “met moeite” (vers 17), selfs as jy nie fisiek ekstra sweet as jy jou werk verrig nie. Die Levitiese priesterdom se klere mag hul ook nie indertyd laat sweet het nie (Eseg. 44:18), wat tipologies daarop dui dat die geloof nie “werke van die wet” (Gal. 2:16) vereis nie – dít is “dooie werke om die lewende God te dien” (Heb. 9:14). Ons moet ons bekeer “uit dooie werke” (Heb. 6:1), dit is godsdienstige aksies wat ons dínk God van ons vra. Die gelowige se goeie werke is spesifiek dít wat voortspruit uit sy goddelike natuur (2 Pet. 1:4), waaruit sy geloof vertoon word (Jak. 2:18; 3:13), en wat uit sy identeit in Christus (Ef. 2:10) deur God vir hom/haar voorberei is. Die laaste Adam, Jesus die Christus (1 Kor. 15.45), het hierdie vloek van die sweet met sý bloedsweet kom omkeer sodat gelowiges in die rus van God verkeer (Heb. 4:10), al moet hul steeds “swoeg deur met ons eie hande te werk” (1 Kor. 4:12), “om rustig te werk en hulle eie brood te eet” (2 Thes. 3:6).

Dr. Tom Gouws