BYBELBAAK 119
Baälaanbidding ‘n godsdiens waarin verskeie gode met mekaar geïntegreer word of naasmekaar bestaan. Alle vermenging van die Christelike godsdiens met heidense gebruike kan ook as Baälaanbidding beskou word. Dit word dikwels gerig deur die viering van feeste om natuurwetmatighede en gepaardgaande aksies (soos oeste) te gedenk. In 1Kon. 11:1-6 word verduidelik hoe die vermenging tussen Israel se monoteïstiese godsdiens en die ander volke se heidense gode ‘n groot hupstoot gekry het met koning Salomo wat baie uitlandse vroue liefgehad het, uit die nasies waarvan die HERE aan die kinders van Israel gesê het: Julle mag nie met hulle meng nie, en hulle mag nie met julle meng nie; hulle sal voorwaar julle hart verlei agter hulle gode aan—Salomo het hulle met liefde aangehang. Astárte, die godin van die Sidoniërs, byvoorbeeld, was ‘n god van seks en vrugbaarheid waarin sterreverering sentraal is. Mitologies is Astárte die moeder van Baäl. Dié woord word ook vertaal as Ashtar en Ishtar, en in Engelse as die woordjie “Easter”. Daarom sê Hislop in sy klassieke teks The Two Babylons dit prontuit: “Easter is nothing else than Astarte …” (p. 101). In 316 n.C. het Konstantijn die heidense gelowe van sy tyd vermeng met die Christelike geloof. Astárte en Baäl is getransponeer tot Maria en Jesus. Veral Rooms-Katolieke gelowiges verwys vandag nog steeds na Maria as “the queen of heaven” (Dictionary of Mary, pp. 283-284). In die Ou Testament was dit die eretitel van Astárte “the queen of heaven” (Jer. 7:18 en 44:17-25). Geloofsgroeperinge kan maklik verval in die viering van hierdie heidense Paasfees. Duidelik mag en wil ons nie ‘Easter’ (die moeder van Baäl) herdenk nie, alhoewel selfs die Afrikaanse Bybelvertalers en die King James die Joodse feesdag Pesach in Hand. 12:4 byvoorbeeld vertaal het as “Paasfees” en “Easter”. Dit is ‘n verkeerde vertaling. Uit die voorafgaande is dit duidelik dat die Babiloniese afgodskultus van Baälaanbidding absoluut ingeweef is in ons eietydse Christelike tradisie van Paasfees. Maar dan, daar gaan regtig niks met jou gebeur as jy paasbolletjies of sjokoladepaaseiers eet nie – word net bewus daarvan hoeveel van ons oorgelewerde kerkpraktyke is gegrond in heidense tradisies en moet liefs nie daaraan deel hê nie.
Dr. Tom Gouws