BYBELBAAK 12
Gelowiges se grootste wapen is hul manier van dink, asook hul identiteit in Christus, want die god van hierdie wêreld het ons denke verduister (2 Kor. 4:4) en sódoende ons ons skeppingsdoel laat mis. Maak dit vas: God is geensins nou in ‘n groot geveg teen Satan nie – Jesus het onder andere gekom om die werke van die duiwel te verbreek (1 Joh. 3:8), en dit is volbring! 2 Kor 10:3-5 wys uit dat ons denke die enigste slagveld is, dit is dáár waar die vestings moet val wat deur die leuen in stand gehou word. Elke gedagte wat negatief of afbrekend is of vrees wil skep, moet gevange geneem word tot gehoorsaamheid aan Christus. Bedink “alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig” (Fili. 4:8). Weerstaan die duiwel deur hoe jy jou denke op hierdie manier leer vernuwe (Rom. 12:2), in ooreenstemming met wat God oor jou of oor jou situasie sê. Hou aan daarmee en hy sál eventueel wegvlug (Jak. 4:7). Die klem in jou lewe moet veel eerder val op ‘n triomferende wandel in jou gewone alledaagse lewe en in jou roeping, waartydens jy sonder vrees by wyse van spreke op slange en skerpioene trap (Luk. 10:19) en jy nie in jou achilleshiel, in jou swakpunt (Gen. 3:15), gebyt word, of gedwing word om as gevolg van jou diepste wonde te reageer nie. Ons mag nie die leer van die dieptes van Satan leer ken nie (Op. 2:24) – vermy dus om bemoeienis te maak met die vreemde geeste, praktyke en dinge wat die Bybel nié noem nie. Die vyand met ál sy geweld en planne kan gelowiges wat in gehoorsaamheid stap géén leed aandoen nie (Luk. 10:19). Al is die wêreld deur die duiwel mislei, wees jý asseblief nié met die planne van Satan onbekend nie (2 Kor. 2:10-11).
Dr. Tom Gouws