BYBELBAAK 22
Onthou dat vrees die mensdom oorweldig het ná die sondeval. Toe die HERE God na die mens roep nadat hy gesondig het, antwoord hy: “Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.” Die bedekking van heerlikheid (Rom. 3:23) wat ons in Adam verloor het, laat ons uitgelewer en blootgestel voel, en derhalwe vrees ons. Die gelowige HET in Christus daardie bedekking teruggekry, alhoewel ons sielsdimensie (veral emosies en denke) nog steeds geprogrammeer is om te bly vrees. 1 Joh. 4:7 sê “die vrees sluit straf in” – om hierdie rede moet jy seker maak dat jy GLO dat God jou ter wille is, jou liefhet en beskerm. Maak dít jou realiteit. Deel met jou weeskindgevoel. Die mens se denke is in staat om drogbeelde op te tower, wat altyd erger is as wat die realiteit kan wees. Deur suggesties van die teenstander neem jy aktief deel aan die vreessiklus waarbinne jy geestelik-emosioneel aangerand word. Trek ‘n streep! Dis net moontlik as ons die Heilige Gees geleentheid gee om ons gemoed te vernuwe (Rom. 12:2), want net Hy kan die juk van vrees verbreek (Jes. 10:27). Bely allereers jou vrees as ongeloof en gebrek aan liefde. Kyk weg van jou fisiese of potensiële omstandighede en hou jou geestesoë op Hom (Heb. 12:2). Vra Hom om die liefde van God in jou (Rom. 5:5) vry te stel en daardeur die vrees na buite te dryf. Die volmaakte liefde dryf alle vrees na buite (1 Joh. 4:18). Om in hierdie geloofsrealiteit te beweeg, is dit belangrik om te bely wat God vir jou oor die situasie gesê het – dis nie ‘n blinde geloof in algemene waarhede nie, maar dit wat Hy oor jou en jou situasie gespreek het. Glo Hom, en dit sal jou tot geregtigheid gereken word, en bely dit wat jy glo. Rom. 10:10-11 – “want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.” Daarmee saam is dit van die uiterste belang dat jy God prys vir die huidige situasie – wees vol danksegging ten spyte van die slegte omstandighede. 1 Thes. 5:18 stel dit onomwonde: “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” Volhard hierin en weet: “God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Tim. 1:17).
Dr. Tom Gouws