Hoe is dit moontlik dat God in iets kan verskyn, soos bv. as vuur in die doringbos (Eks. 3:2)?

 

BYBELBAAK 71

 

Kom ons verduidelik eers die begrip Teofanie. Dit is ‘n samestelling van die Griekse woorde Theos (God) en phainesthai (verskyn), dus: Godsverskyning. Een van die ontologiese kenmerke van God is dat Hy onsigbaar is (1 Tim. 1:17), die “Onsienlike” (Heb 11:27). [Ontologie is ‘n filosofieterm wat dui op die wesens- en bestaanseienskappe van dinge, dit wat iets kenbaar en onderskeibaar maak.] Paulus gebruik in Kol 1: 15-17 hierdie ontologiese eienskap van God om die komplekse verhouding tussen God en Jesus te verduidelik: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.” God is onsienlik; Jesus is die sigbare manifestasie van God. Jesus is dus die ultimate Teofanie! Maar voordat Jesus in die vlees gestalte gekry het en dus sienlik geword het, het Hy nietemin bestaan – Hy is immers die Eersgeborene van alle dinge. Van die begin van tyd af het die onsigbare God Homself dus kenbaar gemaak deur Teofanies te verskyn, te manifesteer in dinge. God hét bv. in donderweer gemanifesteer (Joh 12:28-29, Job 39:2-5), maar nie elke donderslag is uiteraard God se stem nie. God het al deur die bek van ‘n donkie (Num. 11) gepraat, maar dit maak, met respek gesê, God nie ‘n donkie nie, en elke keer as jy ‘n donkiegebalk hoor, is dit nie noodwendig dan God wat praat nie. As God tydelik kan transmuteer, beteken dit dat Hy deur enigiets tydelik kan manifesteer, met ander woorde aspekte van sy ontologie (wesenseienskappe) kan vertoon sonder dat Hy daardie wesenseienskap verloor, en sonder dat die ding sý wesenlike ontologie (as vuur of donkie) verloor. Die klem lê op die tydelike manifestasie, en dat wanneer dit gebeur, die ding nie sy ontologiese status van dinglikheid verloor nie (dit wil sê donkie bly donkie en vuur bly vuur), maar wel dat in die teofaniese transmutasie hul eienskappe verkry wat hul transendensie oorskry. Transendensie beteken dít wat verder strek as jou sintuiglike verstaan, dit wat die grense van jou werklikheidservaring oorskry. Alle vuur bring vertering mee, maar die vuur van die braambos verteer nie die bos nie (Eks 3:2)! Moses se kenne van vuur laat hom naderstaan en in vers 3 praat hy homself aan om “hierdie groot verskynsel (te) bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie”!

Dr. Tom Gouws