Hoe weet ‘n mens of jy as ‘n herder geroep is? Is dit dalk dat nét dominees en pastore en huiskerkleiers in ‘n Bybelse sin herders is?

 

BYBELBAAK 79

 

Een van die mooiste verse in die Bybel wat die hart van herderskap verduidelik, is Ps. 78:70-72: “En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale afgeneem. Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel. En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande.” Die eindtydkerk wat herstel moet word volgens God se hart word nie toevallig die “tabernakel van Dawid” genoem nie. In Amos 9:11 word gesê hierdie tabernakel is “tans a house fallen into ruins”. Daarom sê die Here: “I will repair its walls and restore it. I will rebuild it and make it as it was long ago.” (GNB). Van Jesus word gesê: “En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie.” (Matt. 9:36). Hierdie is die jammerlike toestand van ons huidige kerkwees – die oorgrote meerderheid skape is moeg en uitgeput, weliswaar uitgelewer, want daar is nie genoeg herders nie. Daar is dominees en pastore, en pastorate en kweekskole, ouderlinge en diakens, ‘n hele georganiseerde en aktiewe kerkstruktuur, maar die skape “fainted, and were scattered abroad” (Websters). Dawid het homself trou bewys teenoor die skape in die veld. In die kleine was daar ‘n demonstrasie aan God dat hy met opregtheid en getrouheid, met liefde, met die skape omgegaan het, daar waar niemand hom noodwendig gesien het nie, maar waar hy God se goedheid gedemonstreer het. God se kweekskool is in die skaapkraal, nie in die Bybelskool nie. Elke mens het êrens ‘n potensiële skaapkraal: jou kinders, werkers, bure, vriende, ‘n werkskringetjie, wat ook al. Daar waar niemand kyk dat jy herder nie, sien God wel (Matt. 6:4), en Hy sal jou vergeld (6:18) op grond van “die verstandige oorleg van jou hande”. Net aan sulkes kan God sy erfdeel toevertrou. God se kweekskool is by die kweek, naby die waters waar rus is, waar die kudde versorg word. Ek en jy moet dit skep. Daarom is dit nie vreemd nie dat Jesus vir Simon Petrus, die een wat Hy prototipies geroep het om sy kerk op te rig, in Joh 21:15-17 dwingend vra: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief?” En toe Petrus Hom antwoord: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet”, sê Jesus vir hom: “Laat my lammers wei.” Nog twee keer vra Hy hom dieselfde vraag, sê dan na elke antwoord: “Pas my skape op” en “Laat my skape wei.” In Joh. 10 verduidelik Jesus die geweldige belangrikheid van hierdie herderskap in die Koninkryk van God. In vers 2 stel hy dit onomwonde: “hy wat by die deur ingaan, IS ‘n herder van die skape”. In vers 7 verklaar Hy: “Ek is die deur van die skape.” Dus: elkeen wat gered is (wat by die Deur gekom het), is ‘n herder van die skape – dit sluit dus onteenseglik vir JOU in. Gaan soek jou kudde.

Dr. Tom Gouws