BYBELBAAK 61
Woekerwins is oormatige, ongeoorloofde wins, veral as gevolg van onredelik hoë rente, of wins verkry deur misbruik te maak van ‘n medemens se nood. God veroordeel dit sonder omhaal van woorde (Eseg. 18:13), veral ten opsigte van medegelowiges (Lev. 25:36) en armes (Eks. 22:25). Wins as sodanig is ‘n noodwendige en noodsaaklike ekonomiese beginsel waarmee die Bybel geen probleem het nie – Jesus sê die mens moet met handel wins verdien (Luk. 19:15). Die vrou van Spr. 31, byvoorbeeld, as prototipe van die Bruid van Christus, word geprys oor haar vermoë om goeie wins te maak (verse 11 & 18). God veroordeel egter onomwonde dit wat Tit. 1:11 “vuil wins” noem. As gevolg van ‘n onversadigbare liefde vir geld (Pred. 5:10) en die lokkende “heerlikheid van … rykdom” (Est. 5:11), word gelowiges verlei, en “hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan” (Eseg. 33:31). Rykdom as sodanig kom NET van die Here af – Hý gee “jou krag … om rykdom te verwerwe” (Deut. 8:18). Daarom kan “die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie” (Jer. 9:23). Maar: “die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Tim. 6:9-10). Omdat die mens “nie God én Mammon” kan dien nie (Luk. 16:13), bepaal God in Jer. 17:11 dat hy wat rykdom verwerf, maar nie eerlik nie, in die helfte van sy dae dit moet laat agterbly, en in sy einde sal hy ‘n dwaas wees. Daarmee saam sê Mark. 13:22 dat die verleiding van die rykdom verstik die saai van God se Woord in ons harte, en daardie persone word onvrugbaar vir God se inspraak in hul lewens. Woekerwins is ‘n gewelddadige wyse van wins verkry (Eseg. 22:12) en “dit ontneem sy besitter die lewe” (Spr. 1:19). Dit is interessant dat Miga 4:13 profeteer dat die Bruid sal eventueel die “onregverdige wins aan die HERE toewy en hulle rykdom aan die Here van die ganse aarde”. Maar om daardie erfdeel en outoriteit te kan verkry, moet 1 Tim. 6:6 van ons waar wees: “die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins”. Woekerwins toon ‘n gesindheid van die hart aan, waaroor Luk. 16:11 die gevolge onteenseglik uitspel: “As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?”
Dr. Tom Gouws