BYBELBAAK 101
Ja, ‘n mens wonder hoekom die Israeliete enigsins lus was vir vleis as hulle tog vee tot hul beskikking gehad het om te slag en te eet. Selfs ná die eerste insident waar God vir hulle kwartels gegee het om in hul vleislus te voorsien, was daar steeds lewende hawe wat hulle maklik kon slag, want in Eks. 16:2-3 kla hulle dat hul vee as gevolg van ‘n gebrek aan water kan vrek. As die volk weer in Num. 11:4-6 hul lus vir vleis nie kan bedwing nie, val dit op as vreemd, want aan die einde van die wildernisperiode, word daar van die stamme van Israel wat getrek het, gesê dat hulle “baie vee gehad” (Num. 32:1) het! Die antwoord hierop is eintlik baie eenvoudig – die Skrif stel dit dat daar ongeveer 600 000 mans uit Egipte getrek het. In Num. 1:45-46 word ‘n meer presiese getal gebied, naamlik 603 550 volwasse mans. Konserwatief bereken kon elke gesin ten minste twee kinders gehad het [ons weet die Israeliete het in Egipte “sterk vermeerder” (Gen. 47:27), tot so ‘n mate dat Eks. 1:7 dit eksplisiet uitspel: “die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle”.] As ons dus baie konserwatief bereken, was daar maklik 3 miljoen Israeliete in transito. Om hierdie rede redekawel Moses met God en verduidelik insgelyks waarom hulle trekdiere en vee nie geëet kon word nie: “Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is?” (Num. 11:22). Die blote feit dat hy (sarkasties) verwys na al die visse in die see, terwyl hul in die woestyn is , sê dat al hul diere nooit genoeg vir die groot getalle mense sal wees om te eet nie. Maar meer as dit – daar sal baie gou nie meer genoeg diere wees om te offer nie! Daar sal ook nie genoegsaam hulp wees om al hul trekgoed te vervoer nie; en daar sal boonop geen basisstoet wees as hul in Kaänan aankom nie. (Num. 8-9 verduidelik hoeveel diere nodig is om as offers te dien.) Die eerste episode met die kwartels het plaasgevind vóórdat die Israeliete aan die manna bekend gestel is. Al het hulle in Eks. 16:3 terugverlang na die vleispotte van Egipte, belowe God hulle nié dit nie, maar nét manna: “Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën …” (vers 4). Onthou nou die geheimenis wat die Midrash oor manna gesê het: “Manna tasted whatever you wanted it to be in your mouth, whatever you were hungry for … Manna was the only ingredient you needed for a feast with a great variety of flavourful dishes.” (Michael Esses: Jesus in Exodus, p. 95). Manna sou dus letterlik in ALLE behoeftes en smake kon voorsien, ook in die behoefte aan vleis. MAAR as gevolg van hul ongehoorsaamheid het hul nié dit kon proe nie, en a.g.v. hul murmureringe het God wel die kwartels ook gegee het (Eks. 16:8). “Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ‘n maerte gestuur.” (Ps. 106:15).
Dr. Tom Gouws