BYBELBAAK 93
Benewens vir die feit dat dit uiteraard ‘n historiese dokumentering is wat ook dien om die waarheid van dié epogmakende gebeurtenis te bevestig, is dit ook tipologies van belang. Rom. 15:4 verduidelik dit só: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe …” Alles in die Ou Testament het ‘n tipologiese pendant in die Nuwe Testament. Hierdie ankerepisode van ‘n nuwe era op aarde (“The end of all flesh is come before me …” – Gen. 6:13) is duidelik prototipies. Só byvoorbeeld gebruik Petrus (1 Pet. 3:20-21) én Jesus (Matt. 24:37-41) verwysings na Noag om bepaalde tipologiese gelykstellings te maak. Die woordjie “teëbeeld” wat Petrus gebruik, ‘antitupon’, beteken “tipe”. Die getal sewe dra allerweë in die Bybel die betekenis van volledigheid, voltooiing en perfeksie. In hierdie geskiedenis van Noag is dit spesifiek van groot belang, want God het die aarde in ses dae gemaak en op die sewende gerus (Gen. 2:2-3). Daarbenewens beteken Noag se naam dan ook “rus”. Die hele geskiedenis van Noag kulmineer tipologies in sy Goddelike identiteit wat die mensdom tot rus moet bring – dit is reeds voor sy geboorte merkwaardig deur sy pa, Lamed, oor hom geprofeteer: “Dit is hy wat ons sal troos oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat die HERE vervloek het.” (Gen. 5:29). Die getal sewentien simboliseer in die Bybel totale oorwinning en opstanding. Michael Hoggard sê in sy boek The King James Code: “the number seventeen overwhelmingly represents the completion of time and change or transformation”. Die getal word ook gekoppel aan die enigmatiese getal 153, want 1 + 2 = 3 + 4 + … 16 + 17 = 153. Die getal 153 se gematria dui op “die seuns van God” (Joh. 21:11), oftewel die Bruid van Christus. En dan – die betekenis van die naam Ararat beteken: “the curse reversed”! Hierdie gespesifiseerde datum is dus ook ‘n simboliese heenduiding van die feit dat God in die opstandingskrag van Jesus en sy Bruid ‘n totaal nuwe bedeling gaan meebring op die aarde, “sodat Hy alles tot volheid kan bring” (Ef. 4:10).
Dr. Tom Gouws