BYBELBAAK 73
Die vrou van wie hier vertel word in Joh. 8, is in owerspel betrap, en volgens die Joodse wet, moes sy gestenig geword het (Lev. 20:10). Na die beskuldiging gerig is oor wat die wet vereis, vra die Fariseërs wat Jesus daaroor sê. Jesus reageer vreemd – hy antwoord nie, maar buk af en skryf met sy vinger in die sand. Hulle vra weer, waarop Hy toe vir hulle sê: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi.” (vers 7). Dis ‘n uitsonderlike gees van wysheid wat Jesus hier demonstreer. Hy sê glad nie dat hulle die wet nié moet nakom nie – trouens Hy moedig die toepassing van die wet eintlik aan. Maar hy maak sy lering van vroeër skrikwekkend prakties: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” (Matt. 7:1-2). Dit word ‘n totaal nuwe interpretasie van die hantering van die wet rondom ALLE mense. Later, in Matt. 23:25-28, sou Hy die eksterne wet en die innerlike wet vir die skrifgeleerdes en Fariseërs in geen onseker terme uitspel nie, daardie wette wat Paulus so raak geformuleer het as “die wet van die sonde en die dood” wat staan teenoor “die wet van die Gees van die lewe” (Rom. 8:2). Die feit dat Jesus vir ‘n tweede keer neerbuk en weer eens in die grond skryf, maak dit duidelik dat hierdie handeling ‘n simboliese betekenis dra. Die skrifgeleerdes sou onmiddellik die gedeelte in die boekrol van Jeremia gesnap het: “O HERE, Verwagting van Israel! almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk (“depart from Me”), sal op die aarde geskryf word; want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat. Maak my gesond, HERE, dan sal ek gesond word; verlos my, dan sal ek verlos word …” (Jer. 17:13-14). Die vrou wat in owerspel betrap is, word ‘n prototipe van die nuwe genadeverbond wat God in Jesus kom demonstreer het. Die wetsgeleerde mans het beskaamd stilletjies verdwyn, waarop Jesus die vrou dan vryspreek. “Het niemand jou veroordeel nie? Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.” (verse 10 en 11).
Dr. Tom Gouws