BYBELBAAK 7
Met die sondeval van die mens in die paradys het sy gees dormant geword/gesterf (Gen. 3:3). Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, so het die dood tot alle mense toegang verkry, omdat almal gesondig het (Rom. 5:12). Die loon van die sonde is die dood (Rom. 3:23). Die angel van die dood is dus die sonde wat in ons heers (1 Kor. 15:56). Rom. 7:5 sê: die sondige hartstogte werk in ons lede om vir die dood vrugte te dra. Hierdie vrugte is nie net die vrugte van die vlees (Gal. 5:19-21) en vloeke (Deut. 28:15) nie, dit is ook siektes – en die ongehoorsame mens sal verteer word deur siektes (Deut. 32:24). Siekte en die gepaardgaande dood is derhalwe die gevolg van die mens se gevalle toestand, nie nét die werking van die duiwel nie. Selfs God kan siekte gebruik as Hy wil – sien byvoorbeeld Deut. 28:60. The Message se Job 15:18 stel dit treffend: “True, he wounds, but he also dresses the wound; the same hand that hurts you, heals you.” Eks. 15:26 is ‘n belangrike sleutel in die verstaan van siekte en genesing waar een van die name van God op genesing dui – Jehova Râphâ: the God that healeth thee! Die betekenis van râphâ in Hebreeus is “properly … mend … to cure, cause to heal, make whole”, ook “to make healthful” – dit is dus nie net genesing nie, maar ook voorkoming! In Jes. 53 word dan ook geprofeteer oor Jesus wat sal kom en ‘n nuwe bedeling “teen sonde en ongeregtigheid” (Sag 13:1) moontlik sal maak. Daar moet derhalwe ‘n duidelike korrelasie te bespeur word in wedergeborens tussen geestelike en fisiese gesondheid – 3 Joh. 1:2 sê dit soos volg voor: “Beloved, I wish above all things that thou mayest prosper and be in health, even as thy soul prospereth.” In die profetiese vooruitskouing van Jer. 33:6 maak God ‘n baie belangrike belofte aan die Bruid: “Kyk, Ek laat vir die stad genesing en gesondmaking tot stand kom en sal hulle gesond maak en aan hulle openbaar ‘n oorvloed van duursame vrede.” Die Bruid word as die stad die Nuwe Jerusalem voorgestel, en die “repairing or restoring” beteken letterlik “genesing en gesondmaking” van die stad. Tog is daar gevalle waar ‘n spesifieke persoon genees is, maar nie die res nie. By die bad van Bétesda was daar ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, maar Jesus het net een man genees (Joh. 5:3-11). En alhoewel Paulus dikwels vir mense gebid het en hulle genees het, skryf hy oor Epafrodítus (Fil. 2:25-27) and Trófimus (2 Tim. 4:20) wat nié genees het nie en wat hy siek moes agterlaat. Bid wanneer jy ook al so gelei word, maar onthou: genesing is altyd God se prerogatief. Party siektes is gevolg van persoonlike toedoen (dieet, rook, geen oefening), en God genees dikwels nié siektes en skete van hierdie aard nie. Soms is ‘n siekte tot die dood toe (Joh. 11:4), en moet jy daarin berus. Dikwels is siekte die gevolg van ongeregtighede (wat in familielyne loop) of persoonlike sonde, en moet dit eers hanteer word alvorens daar genesing uitspruit. Die genadegawe van genesing word net gebruik as die Heilige Gees dit uitdeel. Die praktyk wat gevolg moet word as iemand siek is, word uitgespel in Jak 5:14-15: ”Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig.”
Dr. Tom Gouws