In ‘n sendelinggemeenskap waarby ek betrokke is, is daar ‘n man wat later in sy lewe tot bekering gekom het, ná hy volgens Afrikatradisie met twee vroue getrou het en by albei kinders het. Die vroue dien ook nou die Here en die uitgebreide gesin leef in vrede saam. Die man speel ‘n belangrike rol as geestelike voorloper in die gemeenskap, maar ons kerklike leierskap het vraagtekens oor of dit Bybels aanvaarbaar is dat hy wel so ‘n verantwoordelikheid mag verkry.

 

BYBELBAAK 166

 

God se Nuwetestamentiese-riglyn is: “elke man moet sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê” (1Kor. 7:2). Dit is die geval omdat God prototipies uit elke man ‘n bepaalde vrou as sý vrou geskep het, sy metgesel en die vrou van sy verbond, sáám “net een mens gemaak”. Daarom dan die eksplisiete vermaning: “Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie.” (Mal. 2:14-15). Hierdie verborgenheid (Ef. 5:32) is dat God ons “van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” (Matt. 19:4-6). Meer as een vrou, selfs met egskeiding inbegrepe, was egter “van die begin af nie so nie” (Matt. 19:18). Lameg was die heel eerste man wat met twee vrouens getrou het (Gen. 4:19), maar bykans al ons aartsvaders in die geloof was poligamiste. Uit 2Sam. 12:8 is dit duidelik dat God nie soseer ‘n probleem het met poligamie nie, maar dat dit nie moet gebeur deur hoerery, ontrouheid, ongeoorloofde verhoudings, en so meer, nie. Jakob se vierde vrou was uiteindelik bes moontlik eers die een wat uit sy sy geskape is, maar hy moes getrou handel teenoor die Here en sy vroue ter wille van die nageslag van God (Mal. 2:15). Benewens die kulturele aanvaarbaarheid van poligamie (soos onder bykans al die volkere in die Bybelse tye, asook vandag in bv. Afrika), is dit belangrik om te wys daarop dat die patriargale sisteem van baie van hierdie groeperinge waarin poligamie voorkom, vroue meer uitgelewer is/was aan die voorsieningsrol van die man, veral a.g.v. vroulike ongeletterdheid en ongeleerdheid, en dat dit tot prostitusie en slawerny gelei het, en dat dit poligamie bevorder het as ‘n aanvaarbare samelewingsverskynsel. Dan is daar ook bloot veel meer vroue as mans, veral omdat a.g.v. oorloë en gevaarliker blootstellings mans helaas dikwels vroeër sterf, en dit plaas vroue meermale in onbenydingswaardige noodsituasies. Daarom is daar dan ook die spreekwoordelike patroon van Jes. 4:1 – “En in dié dag sal sewe vroue een man aangryp en sê: Ons eie brood sal ons eet en ons eie kleed aantrek; laat net jou naam oor ons genoem word, neem ons smaadheid weg.” In die Nuwe Testament, in 1Tim. 3:2 & 12, asook Tit. 1:6, word die “man van een vrou” genoem in ‘n lys van kwalifikasies vir geestelike leierskap. MAAR, ons moet in die nuwe verbond deurgaans waak om van geestelike riglyne rigiede wettiese verordeninge te maak – “waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (2Kor. 3:17). Almal van ons het geskiedenisse voor ons God begin nagevolg het, en van al die verkeerde besluite en gevolge het God ons vrygemaak, alhoewel ons noodwendig met die gevolge van daardie keuses moet saamleef – “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God. (Derhalwe) is alles my geoorloof, alhoewel nie alles ‘spiritually apropriate’ (soos die MSG sê) is nie.” (1Kor. 6:11-12). Die antwoord op jou vraag – laat hierdie man doen wat hy geroep is om te doen. Hy is ‘n sprekende voorbeeld van Rom. 6:18 (AMP): “And having been set free from sin, you have become the servants of righteousness (of conformity to the divine will in thought, purpose, and action).”

Dr. Tom Gouws