Is 1 Kor. 7:11 vandag steeds geldig: “en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly”? En is dit so dat God egskeiding haat?

BYBELBAAK 17

Daar is geweldig uiteenlopende standpunte oor egskeiding en hertrou. Twee dinge staan egter uit. Eerstens dat die huwelik dikwels op ‘n onvas Goddelik-gefundeerde fondament staan en derhalwe nie die druk van die moderne samelewing daarop kan hou nie en gevolglik maklik meegee. Tweedens, dat Nuwe-Testamentiese riglyne nooit wette word nie, hoogstens as ‘n morele kompas dien van ‘n uitnemender weg – die letter maak dood, die gees maak lewend (2 Kor 3:6). In hierdie lig is selfs 1 Kor. 7:11 ‘n riglyn en nie ‘n wet nie. God het byvoorbeeld self aan Israel ‘n skeibrief gegee (Jer. 3:8)! As gevolg van die gevalle wêreld waarbinne ons funksioneer en gevolglike verkeerde keuse, is egskeiding soms die aangewese weg om te volg, alhoewel God dit nié geïnstitusionaliseer het nie (Matt. 19:7-8). Die verhaal van die goddelose vroue met wie die Israeliete verkeerdelik getrou het en van wie hul moes skei, waaroor Esra 10 berig, is ‘n goeie voorbeeld dat dit wel dat egskeiding en hertrou deur God gesanksioneer kan word. MAAR dit word deur die Gees van God gelei in diepe bewustheid van jou persoonlike verbondsverhouding met Hom en nie deur ‘n generiese wet rondom egskeiding en hertrou nie. “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” (Matt. 19:6) word dikwels voorgehou, maar dan het Gód immers die reg tot skeiding, maar ook – jy moet seker maak of God enigsins wél die twee persone saamgevoeg het – ‘n huweliksooreenkoms gee nie noodwendig die Goddelike goedkeuring nie. Hertrou word in die geval van weduwees aangemoedig (Rom. 7:3, I Kor. 7:8-9 & 39 en 1 Tim. 5:14). Die breë beginsel vir albei gelowiges wat huweliksprobleme het, bly: moenie skei nie (ontrou is die enigste duidelike reg tot egskeiding). En as die een party ten alle koste wil skei, behoort hy/sy vereers nie weer trou nie, want dit sal alle moontlikhede vir versoening tussen die twee partye onmoontlik maak. Die kategoriese stelling in Mal. 2:16 dat God egskeiding haat, is as gevolg van die emosionele verskeurdheid wat dit aan mense veroorsaak, dat hul as gevolg daarvan ‘n kleed van emosionele trauma (“geweldpleging”) sal dra. God is en bly die God van die tweede kans.

Dr. Tom Gouws