Is daar Bybelse besware wat mens kan inbring teen die volkslied ‘Nkosi sik’lele iAfrika’?

BYBELBAAK 59

Daar is vir ‘n geruime tyd allerhande verdagmakery oor hierdie lied wat die grootste deel van die Suid-Afrikaanse volkslied uitmaak. Daar word beweer die lied handel oor voorvaderaanbidding, spesifiek ‘n boomafgod met die naam Nkosi van die aartsmoeder, Mina Mamo Wê, dat die ubuntu-teologie wat dit onderlê die Bybelse verlossingswaardes ontken, en dat die sing daarvan roep dat swanger blanke vroue (wat apartheid verteenwoordig), geslag moet word, in navolging van die 6000 swanger vroue wat klaarblyklik deur Shaka Zoeloe wreed om die lewe gebring is. Dit is oneindig jammer dat gelowiges met ‘n politieke agenda deur sulke disinformasie ‘n gepolariseerde land verder verdeel deur onsinnighede en só vrees en agterdog aanwakker. Niks van die aantygings is waar nie, en hoogstens misleidend verdraai. Nkosi Sikelel’ iAfrika (“HERE, seën Afrika”) is in 1897 as ‘n geestelike lied deur ‘n opregte en ware Christengelowige, Enoch Sontonga, gekomponeer. Hy was ‘n onderwyser by die Methodiste Sendingskool in Nancefield, Johannesburg. Die melodie is gebaseer op die psalm ‘Aberystwyth’ deur Joseph Parry, en Sontonga het dit aangepas om Westerse én Afrikamusiekstyle te verenig. Hy was ‘n digter, koormeester en prediker. Dit is in 1923 formeel in London opgeneem, en in 1927 in ‘n Presbiteriaanse Gesangeboek ingesluit . Nkosi se identiteit in die lied word onteenseglik aan die Heilige Gees gekoppel, en is duidelik die Naam van die ware God van die Bybel. Nkosi beteken in Zoeloe: meester, hoof, koning, maar onteenseglik ook HERE. Gelowiges, van wie God ten alle tye die bediening van versoening verwag (2 Kor. 5:18), kan met vrymoedigheid hierdie lied as aanbiddingslied sing.

Dr. Tom Gouws