BYBELBAAK 128
Die onBybelse draai-of-braai-teologie het die Christendom en die goeie nuus van Jesus Christus se verlossing deur die loop van eeue geweldig skade gedoen, veral omdat daar ‘n absolute kortsigtigheid en vleeslike verstaan is van wat God met die begrip bedoel. Jesus se direkte woorde in Joh. 12:47 is absoluut ondubbelsinnig duidelik: “Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red.” Anders as die populêre opvatting is daar glad nie ‘n algemene oordeel vir alle mense nie. Hierdie populêre beskouing kom uit allerhande heidense oortuigings, asook uit ander godsdienste, maar nié uit die Bybel nie. Volgens die Woord van God is daar geensins ‘n toekomstige enkele geleentheid waarin alle mense voor die troon van God sal verskyn nie. Die foutiewe persepsie is dat Jesus fisies terugkeer aarde toe, en dat Hy op ‘n groot wit troon sal sit en dat Hy dan elke sondaar een vir een voor sy troon sal laat verskyn, is nie waar nie. Die angsbevange sondaars sal dan een vir een met elke enkele sonde, oortreding, of wat ook al gekonfronteer word, veroordeel word, en in ‘n oneindige duisternis van afgryslike straf opgeneem word. Die heiliges sal volgens hierdie siening uit die hemel aansluit vir hierdie kosmiese geleentheid om getuies te wees van die skrikwekkende lot van die ongelowiges, waarna hulle terugkeer na die heerlike strate van goud in die hemel, sonder om weer enigsins te dink aan die ewige lot van die veroordeeldes. Hierdie verwronge idee het gegroei uit ‘n té letterlike interpretasie van ‘n paar Skrifgedeeltes waarin simboliek vooropstaan – dit is nie letterlike verwysings nie, maar simbolies. Interessant genoeg praat die Skrif allereers nie net van één oordeel nie. Dat daar in die verlede, veral in die ou verbond, onteenseglik oordeel voltrek is, is so, en die beste moontlike voorbeeld is die oordeel wat in die tuin van Eden plaasgevind het. Nie net het die federale hoof van die mensdom, Adam, in die beskuldigebank gestaan nie, maar IN HOM die ganse mensdom. Die uitspraak in hierdie regsaak was verdoemend – skuldig as gevolg van ongehoorsaamheid. Die straf van dié oortreding, wat ek en jy ook ontvang het, was die dood (Rom. 6:23). Die mens se ongehoorsaamheid het hul “sekerlik (laat) sterwe” (Gen. 2:17). Die eerste groot oordeelsdag was toe God bepaal het dat “almal in Adam sterwe” (1Kor. 15:22). Die mensdom dien steeds hierdie straf uit – onthou – ons maak maar almal ‘n geraamte groot. Vandag sien ons die uitdien van die straf in elke doodskis en stoet, elke siekte en epidemie, elke pyn en skeet, in die wet van entropie, dat alles neig van ‘n staat van orde na ‘n staat van wanorde. Alle mense wat gebore word, is oorgelwer aan die oordeel van hierdie geestelike wetmatigheid, wat Paulus in Rom. 8:2 noem: “die wet van die sonde en die dood”. Dié oordeel het alle mense geraak. Benewens hierdie vonnisvoltrekking was daar sedertdien dié fatale insident ook verskeie ander oordele. Die bekendste miskien is die vernietegende oordeel oor die ganse mensdom (uitsluitend 8 persone – 2Pet. 2:5) tydens die groot sondvloed; Sodom en Gomorra (Gen. 18:20-21; 19:14). Judas (1:7) noem dat hulle (REEDS) “die straf van die ewige vuur ondergaan” het. En dan ‘n laaste voorbeeld van ‘n oordeel was die vernietiging van die tempel in 70 n.C., daardie “groot en deurlugtige dag van die HERE” waarvan Joël (2:31) geprofeteer het, en wat in detail beskryf word in die profetiese woord van Matt. 24 (die hele hoofstuk). Daardie woorde is in die toehoorders se ore vervul, want Jesus het hulle beslis gewaarsku: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” (vers 34). Een geslag (= 40 jaar) ná dit uitgespreek is (30 n.C), het die vernietiging van die tempel en van Jerusalem in 70 n.C. plaasgevind. Matt. 24 het dus NIKS met ‘n eindoordeel te make nie. Rom. 5:18 wys duidelik die teenvoeter: “Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe.” JESUS HET AL ONS STRAF OP HOM GENEEM. Vers 15 het dit raak gestel: “deur die misdaad van die één (het) baie gesterf …, (maar) veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword”. 2Kor. 5:18-19 spel uit dat God in Christus ALLES met Hom sal versoen. En derhalwe – “daar is GEEN veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:2). Dít is waarlik die goeie nuus van die evangelie!
Dr. Tom Gouws