Is die aarde werklik in nét 6 dae geskape?

BYBELBAAK 27

Baie voorstanders van die skeppingsleer glo dat God die aarde in net ses dae van 24 uur geskep het. Dit stem ooreen met die eksplisiete uitspraak in die wet, Eks. 20:11 – “Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.” Dat God die patroon van die skeppingsorde as voorbeeld/analogie vir Israel gebruik het, is inderdaad so, maar 1 Pet. 3:8 wys dat God dikwels een dag as ‘n duisend jaar voorstel of duisend jaar as een dag. Daniël 9:25 praat bv. van ‘n profetiese week, wat sewe jaar is, en Esegiël (4-5) moes 430 dae op sy sy lê om 430 jaar aan te dui. Tydperke word soms doodgewoon simbolies bedoel om bepaalde ordes van God voor te stel. In Gen. 1:1 lees ons: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Die woordjie ‘begin’ in die Hebreeus is in die meervoud, d.w.s. daar is verskeie ‘beginne’ in God se groter skeppingsontvouing. God het die heelal, insluitende die aarde, in die onbepaalde voortyd geskep. Volgens onlangse wetenskaplike skattings is die heelal byna 14 miljard jaar oud. Génesis se ses ses ‘dae’ waartydens God geskep het sê nie dat hierdie dae 24 uur lank was nie. Trouens, in die Bybel word die woord ‘dag’ gebruik om na verskillende tydperke te verwys. Dit noem byvoorbeeld die hele skeppingstydperk “die dag toe Jehovah God die aarde en die hemel gemaak het” (Gen. 2:4). Klaarblyklik was hierdie “dae” waartydens die skepping plaasgevind het, duisende jare lank (Ps. 90:4). Ons konsep van ‘n dag wat 24 uur lank is, is gegrond op ons definisie van die tydperk wat dit neem vir die aarde om ‘n rondte om die son te wentel. Maar die son is eers op dag 4 van die skepping tot stand gebring, wat onteenseglik dit dan duidelik maak die dag nié ‘n 24 uur-periode was nie.

Dr. Tom Gouws