BYBELBAAK 62
Die woordjie ‘apokrief’ beteken in die Grieks “wat weggesteek is, geheim”, en in die Latyn “van twyfelagtige outentisiteit, esoteries”. Apokriewe boeke is geskrifte wat nie erken word as deel van die kanon van die Bybel nie, dit wil sê, hulle maak aanspraak daarop dat hulle deur God geïnspireer is, maar daar is redelike algemene konsensus onder kenners dat hulle nié tuishoort in die Woord van God nie. In sommige Bybels, soos bv. in wat die Rooms-Katolieke Kerk gebruik, word die Ou-Testamentiese apokriewe wel by die bestaande 66 Bybelboeke ingesluit. Ou en Nuwe Testamentiese apokriewe word verkeerdelik soms die “verlore boeke” van die Bybel genoem. Daar is wel verlore boeke [soos bv. Die Boek van die Opregte (Jos. 10:13); Die Boek van die Konings van Juda en Israel (2 Kron. 28:26); Die Geskiedenisboek van Salomo (1 Kron. 11:41); Die Uitleg van die Profeet Iddo (2 Kron. 13:22); Die Boek van die Oorloë van die HERE (Num. 21:14)], maar die meeste apokriewe boeke is beskikbaar om te lees, ook in Afrikaans: ‘Apokriewe Ou en Nuwe Testament: Verlore boeke uit die Bybelse tyd’ (reds. Jan van der Watt & Francois Tolmie, CUM, 2005). Die formalisering oor watter boeke deel moet uitmaak van die Bybel is gedoen by verskillende kerkvergaderings (die Konsilie van Laodisea, 363 n.C., die Konsilie van Hippo, 393 n.C. en die Konsilie van Carthage, 397 n.C.) en konstitueer “die heilige Skrifte” (Rom. 1:2). Daar bestaan ook baie ander briewe en dokumente wat deur die Apostoliese Vaders in die eerste eeue geskryf is om inligting met mekaar uit te ruil, wat die Bybelse kanon bevestig. Alhoewel daar baie waarde geheg word aan sekere apokriewe boeke, bv. die ‘Boek van Henog’, is dit hoogstens interessant in die mate wat dit korrespondeer met dit wat deur die gesaghebbende Bybelboeke bevestig word. In laasgenoemde boek is daar byvoorbeeld baie misleiding ten opsigte van engele, demone en die eindtydleer, wat jammerlik genoeg geïntegreer is in algemene Christelike denkwyses, al is dit dan nie Bybels nie. (Dit is ook nie die boek waarna Jud. 1:9 verwys nie.) Die Bybel – soos dit deur die eeue oorgelewer is – dra onteenseglik die kohesie van “al die skatte van wysheid en kennis verborge” (Kol. 2:3) in Jesus, wat dan ook gelykgestel kan word met die Bybel as die geïnskribeerde Woord van God, “woorde … in ‘n Rots ingekap” (Job 19:23-24; 1 Kor. 10:4).
Dr. Tom Gouws