BYBELBAAK 9
Om babas te doop is ‘n Rooms-Katolieke gebruik wat deur die Protestantisme oorgeneem is. Dit is geskoei op die dogma dat God ‘n verbond sluit met ‘n geloofsgroepering (soos met die indertydse Israel) en dat jy deur die rituele daad van besprenkeling tot die verbond toegevoeg word. Hulle leer dat die besnydenis van die verbondsvolk Israel in die nuwe verbond oorgegaan het in die doop van kindertjies. Die baba word as ‘t ware dan in die verbond ingebore en volgens prof. Johan Heyns, in sy boek Dogmatiek, word dié gedoopte dan só wedergebore. Dit is nie Skriftuurlik nie. Daar is geen getuienis van die babadoop in die Bybel of in die opgetekende geskiedenis van die kerk se eerste 100 jaar nie. Die enigste rituele besprenkeling waarvan die Skrif praat, is die Ou-Testamentiese besprenkeling met bloed (Heb. 11:28), en die simboliese Nuwe-Testamentiese besprenkeling met die bloed van Jesus (1 Pet. 1:2; Heb. 9:19) tot reiniging. Dit is nie in die Nuwe Testament deur water gedoen nie, ook nie die sogenaamde heilige waters nie. Doop in Grieks (baptizo) beteken onderdompeling (“to immerse”), omdat dit ‘n vereenselwiging is met die sterfte en opstanding van die Verlosser. Daarom sê Rom. 6:4 dat die gelowige word “saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is … ons ook in ‘n nuwe lewe kan wandel”. Dit word baie duidelik in Mark. 16:16 deur Jesus uitgespel: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word …” Die bababesprenkeling is ‘n sakrament wat die ware doop van die gelowige roof. Die ou verbond se fisiese besnydenis het in die nuwe verbond oorgegaan in die geestelike besnydenis van die hart, oftewel wedergeboorte (Rom. 2:29). In Tit. 3:5 word dit netjies saamgevat: Hy het “ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees”.
Dr. Tom Gouws