BYBELBAAK 114
Nee, op al die vrae. Ps. 115:16-17 stel dit kategories: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee. Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie …” Geen dode vaar op enige manier op na die hemel toe nie. Oor Dawid, die man na God se hart, wat volkome in Sy wil gewandel het (Hand. 13:22), sê Petrus bv. onomwonde in Hand. 2:34 – “Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie”. Trouens, Jesus stel dit eweneens kategories in die algemeen terwyl Hy fisies voor hulle staan: “En NIEMAND het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.” (Joh. 3:13). Jesus is dus terwyl Hy dit sê in die hemel én op die aarde tergelykertyd! Maar wat bedoel 2Kon 2:11 as daar dan van Elia gesê word: “en Elía het in die storm na die hemel opgevaar”? En in Op. 11:12 oor die twee getuies: “En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk.”? Hierby kan mens voeg die eiesoortige ervaring van Henog, van wie daar in Heb. 11:5 (ISV) gesê word: “By faith Enoch was taken away without experiencing death. He could not be found, because God had taken him away.” Teenoor dit alles staan daar tog onteenseglik in 1Kor. 15:50 – “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.” Dit wat met Elia en Henog gebeur het, is ‘n bepaalde gebeurtenis wat ons van naderby moet beskou. Die woord wat in Heb. 11:5 gebruik word om Henog se transisie te beskryf, is in Grieks ‘metatithēmi’, wat bestaan uit die twee woorddele: ‘meta’ en ‘tithēmi’. Die woorddeeltjie ‘meta’ dui op verandering, en ‘tithēmi’ op posisionering. Thayer gebruik die samestelling: “to transpose” (transponeer, oorbring, omwissel). Die grootste fout wat ons maak in die verstaan van hierdie transisie van posisie, is om dit te koppel aan ‘n verandering van plek. Dit is glad nie so nie; veel eerder is dit ‘n verandering van staat of toestand. Elia en Henog is nie hemel toe nie; hulle is bloot verander van ‘n vleeslike staat na ‘n geestelike staat, soos inderdaad dit ook met Jesus gebeur het. Die woordjie “opgevaar” sou sonder die veronderstelde, oorgelewerde ruimtelike assosiasie baie beter vertaal kan word met die omskrywing: transisie na ‘n ander posisie of staat. ‘Translation’ sou in taalkonteks ook die aksie duidelik maak – Elia, Henog, Jesus en bv. die moordenar aan die kruis vie wie Jesus belowe het “vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk. 23:43) is verander van ‘n aards-materiële fisiese realiteit na ‘n aards-onsienlike geestelike realiteit, wat die Bybel die wolk van getuies (Heb. 12:1) noem. Die 82 keer wat die woordjie “op(ge)vaar” in die Nuwe Testament gebruik word, beteken dit ‘n skrale 16 keer “ascending”, wat benewens vir die enkele verse wat oor die “translation” van persone van een realm na ‘n ander realm gaan, vir die oormaat kere dui op ‘n blote beweging (van dorp tot dorp, ‘n berg op, van reukdampe wat opstyg, en so meer). Die ander kere dui dit bloot op alledaagse bewegingsaspekte. Binne hierdie betekenisparadigma is dit absoluut duidelik dat “opvaar” geensins kan dui op “hemel toe” nie – die teendeel is eerder waar. “Hemel” is niks anders nie as God se staat van heerskappy (Jes. 66:1; Hand. 7:49), onafhanklik van plek, “(a state) which He brought about in Christ, when He raised Him from the dead and seated Him at His right hand in the heavenly places” (Ef. 1:20) – dit is die outoriteitstaat waarin Jesus saam met God verkeer. Almal wat deel van die Bruid van Christus is, verkeer REEDS in hierdie outoriteitstaat van “oorwinnaars” in die hemele (Ef. 2:6; Op. 3:21) Dit gebeur reeds, in die hier en nou; ons vaar nie eers eendag op nie. Ons gaan dus nie eendag hemel toe as beloning nie; ons IS reeds in die hemele in Christus.
Dr. Tom Gouws