Is dit moontlik, en aanvaarbaar, om kontak met die dooies te hê, soos die topses van die ANC pas gedoen het?

 

BYBELBAAK 100

 

Met die rolprent The Sixth Sense het die slagspreuk: “I see dead people” die kruks van hierdie saak verwoord. In populêre TV- en radioprogramme van John Edwards en Mariëtta Theunissen het dit ‘n gewilde bedryf geword om met dooies te kommunikeer. Ons lees in 1Sam. 28 van die oproep van die gees van ‘n afgestorwene. Die profeet Samuel het gesterwe en is begrawe. Die koning van dié tyd, Saul, het al die die “dodebesweerders” en die waarsêers uit die land verwyder. ‘n Dodebesweerder is volgens die AMP “a medium [between the living and the dead]”. Die KJV noem dit “those that had familiar spirits”. Die JPS-vertaling noem dit “those that divined by a ghost or a familiar spirit”. Die woord in die Hebreeus vir dié mediums is ‘ôb’, wat op verlei plekke in die Skrif gebruik word, waarvan Jes. 8:19 miskien die duidelikste is: “En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel—moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?” Hierdie woordjie ‘ôb’ dui derhalwe op die “mumble, that is, a water skin (from its hollow sound)”, sê Strong. Maar baie interessant is dat die woordjie afgelei word van die basiswoord ‘âb’, wat “vader” beteken! Nou wie sou die ‘vader’ in hierdie geval wees? Die duiwel, uiteraard! (Joh. 8:44, AMP). Hierdie is ‘n baie belangrike sleutel tot die hantering van wat vry algemeen menslike geeste (of dan in volkstaal spoke), en in Afrikakultuur, voorvadergeeste, genoem word. Dit is duidelik dat dit kan nooit menslike geeste wees nie, maar dit is demone wat hul voordoen as afgestorwe persone. Dis deel van die duiwel se leuengestalte. Daarom word dit ook verklaar as “ventriloquist, as from a jar”. Die Assiriese woord aboeboe dui ook op “bose gees”! Eintlik is dit baie logies – enige wedergebore mens wat sterf se gees gaan na God toe (Pred. 12:7) en dus kan hulle nie dwaal of spook nie. Ongelowiges, daarenteen, het nié ‘n geesdimensie nie, en kan dan ook nie dwaal of spook nie. Pred. 9:5 stel dit duidelik: “die dooies weet glad niks nie”. Toe Jesus in die vierde nagwaak al wandelende op die see na die dissipels in die skuit gestap kom, sê Matt. 14:26: “En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is ‘n spook! En hulle het geskreeu van vrees.” Die woordjie wat hier vir “spook” gebruik word, gee nie legitimiteit aan die wese nie, soos die Grieks dit dan ook uitspel as ‘phantasma’ (“a mere show, a performance”, “an appearance”, wat afgelei is van ‘n woord wat “to cause to appear” beteken). Terug by die ANC – dit is eindeloos hartseer dat die wedergebore president van die ANC homself laat verlei het om die geeste van afgestorwenes en geeste wat waarsê, te raadpleeg. Dit het helaas bepaald ‘n invloed op die pad vorentoe van die party, die land, maar veral die ANC-president. Ons as gelowiges sal God blý herinner aan die suiwer Geesgedrewe nalatenskap van ANC-grondleggers wat toegewyde seuns van God was: Langalibalele Dube, Sefako Makgatho, Zacharias Mahabane, Josiah Gumede, Pixley ka Isaka Seme, Alfred Bitini, Sol Plaatje, D.D.T. Jabavu, James Calata, Selby Msimang, James Moroka, en vele ander, wat nou as geestelik lewendes in die wolk van getuies alle gelowiges aanmoedig om die oog gevestig te hou op Jesus die Christus en sódoende aan God se agenda vir Suid-Afrika gestalte te gee (Heb. 12:1-2). “God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.” (Matt. 22:32).

Dr. Tom Gouws