Is dit verkeerd om water te wys?

 

BYBELBAAK 126

 

Waterwys is ‘n bekende verskynsel in Suid-Afrika, alhoewel die oorsprong daarvan lê in die verre verlede. Die Mede, Perse, Grieke en Romeine het ook water aangewys deur die wiggelroede gebruik. Georgius Agricola het vir die eerste keer ‘n beskrywing van die mikstok in 1556 in sy boek, De Re Metallica, gegee. Hulle het beweer dat die mikstok beweeg word deur die krag van die onderaardse water-are. Dit was egter die Duitsers (in die sestiende eeu) wat die wiggelroede gewild gemaak het. Toe daar kerklike teenkanting teen die gebruik daarvan kom, het sommige wiggelaars in Duitsland hul mikstokke volgens kerklike gebruik verchristelik deur dit op een van die heilige dae te sny, of dan die stok saam met ‘n dopeling in die bed te sit. Die stok is dan daarna ‘gedoop’ en aangespreek. Teen die einde van die sewentiende eeu was die wiggelroede ook in Suid-Afrika, en veral predikante het sg. hierdie “gawe” gehad. Staal-, koper- of bloudraad, ‘n rietstokkie, of ‘n bottel vol water is ook gebruik. Daar word ook gepraat van heldersiendheid, mense met “X-straaloë” wat water glo kan “sien” – ‘n vermoë waarmee die seun Pieter van Jaarsveld baie bekend geraak het. Sommige glo dat die mikstok van ‘n boom wat naby aan water groei, soos ‘n wilgerboom, gesny moet word. Wanneer daar oor die water beweeg word, sal die nek van die mikstok grond toe buig. Die waterwyser loop ‘n paar keer uit verskillende rigtings totdat hy die middelpunt van die aar gekry het. Daar word ‘n merk gemaak, en dit is dan die aangewese plek om te boor. ‘n Ander metode is om twee stukke draad van ongeveer ‘n meter elk in L-vorms te buig. Waar die drade oor mekaar swaai, is die aar. Andersins word ‘n muntstuk in die vuis gehou en dié sal liggies tril as oor ‘n wateraar geloop word. Ander gebruik die pendulum – ‘n gewiggie aan ‘n toutjie of ‘n skietlood. Die gewiggie sal begin swaai waar die water is. Daar is waterwysers wat sonder enige werktuig die ondergrondse water kan aanvoel. Sodra hulle die die wateraar nader, begin die liggaam bewe, deur kenners van die okkulte heldervoelendheid genoem. Hierdie werking van waterwys word baie dikwels “’n gawe van die Here” genoem, maar dit is helaas nie die geval nie. Die vraag is net waarom dit vir die een werk, maar vir ‘n ander met presies dieselfde stokkie nié? Waarom moet jy eers aan die persoon met die “gawe” vashou voordat dit dan soms vir jou ook sal werk? Waarom word die “gawe” van vader na seun oorgedra? Dit is alles aspekte van geesoordrag. Wetenskaplikes het geen verklaring vir die werkinge van ‘n mikstok nie (sien byvoorbeeld Martin Gardner se boek Fads and Fallacies in the Name of Science). Die Amerikaanse benamings ‘water dowsing’ (waterwiggelary) en ‘water witching’ is egter ‘n aanduiding van waterwys se historiese assosiasie met towery. As die stokkie beweeg as gevolg van sekere magnetiese kragte in die aarde, dan moes dit met alle mense gewerk het. Sekulêre skrywers oor die okkulte, soos Vogt en Hyman, hanteer tereg waterwys in dieselfde asem met ander okkultiese praktyke soos die Ouijabord, seances en outomatiese skryf. Hieruit word afgelei dat daar ‘n gees betrokke is by waterwys en dit is nie die Gees van God of ‘n gawe van God nie. Wie hierdie gees van waarsêery dus nie het nie, het nie die vermoë om water te wys nie. Hos. 4:12 noem die waterwysstaf in sekere vertalings ‘n “divining rod”. Dit is van groot belang vir gelowiges om meer oor watergeeste te wete te kom. Samuel Dikaniakina se werk: The Dark Forces of the Acuatic World is ‘n belangrike publikasie in hierdie verband.

Dr. Tom Gouws