BYBELBAAK 111
Daar is Charismatiese bedienaars van die Woord, soos byvoorbeeld Arthur Burke, wat groot klem lê op die nagevolge wat jy kan ervaar as iemand op jou jaloers is. Hy het baie verhale te vertel van jaloesie in bedieninge, tussen familielede, en hoe dit uiters negatiewe gevolge vir die mense gehad het. Hy plaas ook groot klem op vloeke en ongeregtighede wat deur hierdie gees resulteer in sielsgebede en aksies wat dan “oorgedra” word op gelowiges. Ek verskil radikaal van hierdie standpunt. Daar is altyd mense wat op jou jaloers is, wat afgunstig is op jou besittings, of jou geleerdheid, of jou fisiese krag, of jou skoonheid (vel/hare/kuite), of jou kinders, of jou omstandighede, of jou goeie lewe, of die hoeveelheid opstote wat jy in die gim kan doen, of die geestelike openbaring wat jy ontvang. Die lysie is nimmereindigend. Solank as wat jy in jou posisie in Christus is, kan hul jaloesie NIKS veroorsaak wat jou skade kan doen nie. Daar is nie ‘n onsienlike swaard van jaloesiegevolge wat oor jou kop hang en jou wie-weet-wanneer gaan oorval nie, nee. In Christus kan die gees van jaloesie (Num. 5:14) niks aan jou doen nie; dit is soos Salomo sê in Spr. 26:2 (ESV): “a curse that is causeless does not alight”.
Dr. Tom Gouws