BYBELBAAK 31
Allereers: kom ons praat eerder van selfdood as selfmoord. Die begrip ‘selfmoord’ het reeds ‘n veroordeling ten grondslag, en géén mens het enigsins die reg daartoe nie: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” (Matt. 7:1). Jesus het medelye met ál ons swakhede (Heb. 4:15), want – soos God – verstaan Hy ons wat in kleihuise bly, van wie die grondslag in die stof is, wat soms deur omstandighede en hooploosheid fyngedruk word soos ‘n mot (Job 4:19). Ps. 139:16 stel dit onomwonde: “AL my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is”. God bepaal met presisie jou dag van geboorte en die dag van jou sterfte. Derhalwe is Pred. 8:8 waar: “Niemand het … seggenskap oor sy sterfdag nie.” Tog is dit moontlik om voortydig te sterwe, dat jou son ondergaan terwyl dit nog dag is (Jer. 15:9). Dit kan gebeur as jy nie binne God se volmaakte wil loop nie, óf uit lyn uit is deur jou ongehoorsaamheid aan God. Jy kan uiteraard ook jou eie lewe verkort deur eiesinnigheid en slegte gewoontes. Die Bybel noem vyf mense wat selfdood gekies het: Saul (1 Sam. 31:4), Agitófel (2 Sam. 17:23), Simri (1 Kon. 16:18), en Judas (Matt. 27:5), asook die rigter Simson (Rigt. 16:23-31). Sý selfdood is grootliks ‘n kulminasie van ongehoorsaamheid, maar teen die einde word dit, interessant genoeg, nié veroordeel nie, maar as ‘n heldedaad uitgelig. Sy begrafnis word op die normale manier gedoen (Rigt. 16:31). Onder die lys van groot geloofshelde word Simson se naam pertinent genoem (Hebr. 11:32), t.s.v. sy selfdood. Baie sterk figure in die Bybel is soms oorweldig deur hul omstandighede dat hul nie wou aangaan met die lewe nie, soos bv. Elia wat onder ’n besembos gaan lê en tot God gebid het: “Dit is genoeg, neem nou my siel weg, Here, want ek is nie beter as my vaders nie.” (1 Kon. 19:4). Ons hoop blý egter daarop gevestig dat God jou van die onmoontlike kan uitred, uit die doodloopstraat van slegte omstandighede (Gal. 1:4). “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom.” (Ps. 34:19). God belowe onteenseglik dat hy die geknakte riet nooit sal verbreek nie (Matt. 12:20). Wanneer iemand hom tot die wanhoopsdaad van selfdood wend, is hy/sy dikwels nie meer toerekeningsvatbaar nie. Ek vertrou dan egter die woord in Rom. 8:38-39: “Want ek is versekerd dat GEEN DOOD of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here is nie.” (Rom. 8:38-39).
Dr. Tom Gouws