BYBELBAAK 66
Die woord wat in Génesis gebruik word om die vereniging van Mens en Mannin te beskryf, dui duidelik op ‘n seksuele intimiteit, ‘n innerlike verbondenheid, ‘n diepgesetelde eenheid wat onherroeplik geïntegreer is. Maar gemeenskap buite die huweliksverbond het OOK hierdie liggaamlike integrasie tot gevolg (1 Kor. 6:15-20). Hierdie verborgenheid (Ef. 5:32) van die eenwording tusssen man en vrou is uiteraard nie net blote seksuele verkeer nie, want dit is volgens Mark. 10:9 God wat hierdie samevoeging doen, en dit gaan nie net gemaklik gebeur met ‘n (on)willekeurige uitwoed van passie, wat Rom. 1:26 “skandelike hartstogte” noem, nie. Dit is uiteraard ook nie die formele huweliksbevestiging deur die staat, of die godsdienstige praktyk van egverbinding in ‘n kerk, of tydens ‘n formele seremonie nie. Die geheimenis waarvan Paulus in Mal. 2:15 en Ef. 5:32 praat, is dat die twee, man en vrou, wat in die voortyd reeds verbind was, mekaar uiteindelik vind en dan verenig word tot een vlees en een gees, “een mens” (Gen. 5:2), soos dit oorspronklik was. God het die onherroeplike eenheid van ‘n spesifieke man en ‘n spesifieke vrou voor die grondlegging van die aarde só as eenheid bedink. Nie elkeen met wie jy seks gehad het, is jou man/vrou nie. Nie noodwendig die man/vrou met wie jy voor die kansel of voor die huweliksbevestiger gestaan het en trou beloof het, is jou man/vrou nie. Uit die totale Bybelse perspektief is die vrou wat uit die man se sy gehaal is, “die vrou van jou jeug … jou metgesel … die vrou van jou verbond” (Mal. 2:14). Die openbarende gedeelte hier is Mal. 2:15 waarin God die historiese konteks gee: “Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ‘n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie.” Hy het man en vrou uit een gees gemaak, nie aparte gees nie! Dit wat hierdie wesens se fisiese én geestelike lewe rig, is uit dieselfde bron, of asem, of gees, rûach, geskep. Hieruit is dit absoluut duidelik hoe ernstig God hierdie proses om jou man/vrou uit die voortyd te vind, bejeën, en hoe daar op alle vlakke gewag en teruggehou moet word (ook op seksuele vlak dan) totdat jy en hy/sy daaroor absolute sekerheid voor God het. Inaggenome dan die absolute geperverteerdheid en gebrokenheid van hierdie wêreld se oorlewering en tradisies, gewoontes, blootstellinge, omstandighede, gebrek aan kennis, en uiteindelik ook persoonlike keuses, kan ‘n mens verstaan waarom die huwelik as ‘n instelling deur die eeue totaal teleurstel, misluk, en desnoods enorme gebrokenheid veroorsaak het – nié net by die betrokkenes nie, maar ook in hul nageslagte. Dit gaan dus glad nie oor saamwoon nie. As twee mense wat saambly dan weet hulle is mekaar se man en vrou, waarom trou hulle dan nie? Wanneer ons regtig ernstig is oor enige transaksie, dan teken ons tog ‘n kontrak om ons erns en verbintenis tot die onderhouding van die ooreenkoms te bevestig. As ‘n mens dan regtig ernstig is oor die verhouding waarin jy is, waarom dan wegskram van die commitment wat ‘n huwelik impliseer? Die OT wet hieroor is baie streng: “Sy moet sterf omdat sy ‘n ongehoorde ding in Israel gedoen het deurdat sy met ‘n man geslagsgemeenskap gehad het terwyl sy nog ongetroud was.” (Deut. 22:21). Die NT-riglyn in Heb. 13:4 bevestig steeds God se vereiste vir ‘n vaste verbond tussen man en vrou: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” Dus, 1 Kor. 7:9 maak die saak eenvoudig – “as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand”.
Dr. Tom Gouws